Landloop - tradisioneel 'n wintersportsoort - kan moontlik in die toekoms deel word van die Olimpiese Winterspele, sê Sebastian Coe, president van Wêreldatletiek.
Dié uitmergelende been van atletiek was in 1924, toe die Olimpiese Spele die vorige keer in Parys aangebied is, ook deel van die Spele.
Daar was aanvanklik sprake dat landloop vanjaar weer deel van die Spele sou wees, maar dit het nie gebeur nie.
Coe het op 'n mediakonferensie gesê hy het al verkennende gesprekke met David Lappartient, president van die Internasionale Fietsryfederasie (UCI), gehad oor die moontlikheid dat landloop en cyclo-cross dieselfde bane kan gebruik indien die Internasionale Olimpiese Komitee (IOK) landloop tot die Winterspele sou toelaat.
"Dié gesprekke het goed verloop, maar die fyn besonderhede moet nog uitgewerk word," sê Coe.
Hy sê hy was nog altyd 'n voorstander daarvan dat landloop 'n Olimpiese sportsoort moet wees.
Dit sal veral help om lande in Afrika waar landloop baie gewild is, deel te maak van die Olimpiese beweging,
Landloop is ook baie gewild in Brittanje en Europa.
As dit 'n Olimpiese wintersport word, sal dit waarskynlik ook die aansien van dié sportsoort in Suid-Afrika verhoog.
Suid-Afrika het baie talentvolle landloophardlopers en Zola Budd, weliswaar destyds in die kleure van Engeland, was twee keer die wêreldveldloopkampioen.
Die meeste van die voorste middel- en langafstandhardlopers het 'n landloop-agtergrond.





















