Suid-Afrikaanse roeiers deur na halfeind

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister
Suid-Afrika se drie roeiers wat in Parys aan die Olimpiese Spele deelneem. Van links is John Smith, Paige Badenhorst en Christopher Baxter. Foto: Sarel van der Walt
Suid-Afrika se drie roeiers wat in Parys aan die Olimpiese Spele deelneem. Van links is John Smith, Paige Badenhorst en Christopher Baxter. Foto: Sarel van der Walt

Die twee Suid-Afrikaanse roeiers John Smith en Christopher Baxter is veilig deur na die halfeindronde in die afdeling vir pare.

Smith, wat 12 jaar gelede in Londen in die viertal was wat die goue medalje vir Suid-Afrika verower het, en Baxter, wat aan sy eerste Spele deelneem, het Sondagoggend tweede in hul uitdun geëindig.

Die roeiers ding oor 'n afstand van 2 000 m mee.

Hulle het die afstand in 6:36.71 afgelê en sowat drie sekondes ná die Britse span, wat eerste was, oor die eindstreep geroei.

Smith, wat sy uittrede opgeskort het om te probeer vergoed vir 'n teleurstellende Spele vier jaar gelede in Tokio, en Baxter was ná die eerste 1000 m in die derde plek en het toe opgeskuif na die tweede plek.

Duitsland was derde, met Australië vierde.

Sewe van die spanne het vinniger tye as die twee Suid-Afrikaners aangeteken.

Die spanne wat nie regstreeks gekwalifiseer het nie, kry nou Maandag in heruitdunne 'n kans om hul plek in die halfeindronde van dié moordende nommer te bespreek.

Roei is saam met swem en atletiek die enigste sportsoorte waarin Suid-Afrika sedert sy terugkeer na die Spele in 1992 in Barcelona, op meer as een Spele medaljes vir die land gewen het.

Die halfeindronde vind Woensdag plaas.

Suid-Afrika se Paige Badenhorst het Saterdag deurgedring na die kwarteindronde in die enkelafdeling.

Roei is saam met swem en atletiek die enigste sportsoorte waarin Suid-Afrika sedert sy terugkeer na die Spele in 1992 in Barcelona, op meer as een Spele medaljes vir die land gewen het.

Die Suid-Afrikaanse roeispan oefen meestal op die Roodeplaatdam buite Pretoria.

Sarel van der Walt In Parys

SPELETJIES VANDAG

CTA