Die 32-jarige Chad le Clos kon Vrydag in die uitdunne van die 100 m-vlinderslag vir mans nie die halfeindronde haal nie.
Die Suid-Afrikaner was 12 jaar gelede vir een van die epiese oomblikke in die Olimpiese swemgeskiedenis verantwoordelik.
Le Clos, wat met 'n skouerbesering sukkel, moes met 'n tyd van 52.24 sekondes tevrede wees. Hy was tweede in sy uitdun, maar dié tyd was slegs die 24ste vinnigste.
Matthew Sates was sewende in 54.53.
Dit beteken hulle kon nie deurdring na Vrydagaand se halfeindronde nie.
Kristóf Milák van Hongarye het in die uitdunne die vinnigste tyd van 50.19 aangeteken.
Le Clos het glo sy skouer beseer toe hy 'n ruk gelede geoefen het. Terwyl hy geswem het, het 'n kind in die swembad gespring en hom teen die skouer getref.
Le Clos het in 2012 op die Spele in Londen met 'n vyfhonderdste van 'n sekonde afgereken met die legendariese Amerikaner Michael Phelps, wat destyds beskou is as die "beste swemmer wat die wêreld tot nog toe gesien het".
Hoewel Le Clos al 32 jaar oud is, wil hy nog nie sy swempet bêre nie en wil hy mik vir 'n vyfde Spele in 2028 in Los Angeles.
Hy sê hy moes eintlik nie deelgeneem het nie, maar dis makliker gesê as gedaan.
Rebecca Meder het op haar beurt net-net vir die halfeindronde in die 200 m-individuele wisselslag vir vroue gekwalifiseer. - Sportredaksie




















