Suid-Afrika se Akani Simbine het Sondagaand sy plek in die eindronde van die 100 m op die Olimpiese Spele in die Franse hoofstad bespreek.
Die eindronde - een van die mees gesogte titels in wêreldsport - vind later Sondagaand plaas.

Wêreldatletiek het $50 000 op die spel geplaas vir die gouemedaljewenner.
Simbine het die tweede uitdun van die halfeindronde in 9.87 s (wind: 0.0 m/s) gewen, terwyl Benjamin Richardson met 9.9 5s derde was in die derde halfeindronde-wedloop.
Hy het nie deurgedring nie omdat slegs die eerste twee atlete in elke uitdun, sowel as die twee ander vinnigste atlete vir die eindronde kwalifiseer.
Altesame 12 atlete het in die halfeindronde tye van vinniger as 10 sekondes aangeteken wat dui op hoe sterk die mededinging in dié item is.
Die laaste keer wat Suid-Afrika 'n medalje in die 100 m op die Olimpiese Spele kon wen, was in 1908 in Londen toe die 19-jarige Reggie Walker die goue medalje verower het.
Botswana se baie belowende Letsile Tebogo, wat gereeld in Suid-Afrika deelneem, was tweede in Simbine se uitdun in 9.91 s.
Simbine, wat al 'n derde en 'n vyfde plek in die Olimpiese eindronde gehaal het, het Saterdag ná die eerste uitdunne gesê hy fokus net op sy eie wedloop en het met die uitdunne haastige tye gejaag om seker te maak van goeie baanlotings in die eindstryd.
Op sy beurt het Richardson gesê hy sou nie aan die Spele kom deelneem het as hy nie gedink het hy kon wen nie.
Shaun Maswangani was op sy beurt in die eerste uitdun vyfde in 10.02 s. wat sy beste dié seisoen is.
Die uitdun is deur Jamaika se Oblique Seville in 'n baie vinnige 9.81 s (wind: 0.7 m/s) - die vinnigste van sy loopbaan- gewen, met die Amerikaner Noah Lyles, een van die gunstelinge, tweede in 9.83 s.
Die Suid-Afrikaners se goeie vertonings dui ook op 'n moontlike stewige vertoning deur Suid-Afrika later in die week in die 4x100 m.
Vroeër in die aand kon Zakithi Nene en Leith Pillay nie regstreeks tot die halfeindronde van die 400 m vir mans deurdring nie.
Nene, wat in die pylvlak nog voor was, het vierde in die vyfde uitdun geëindig in 45.01 s.
James Kirani, 'n voormalige Olimpiese kampioen, het gewen in 44.78 s. Die Amerikaner Michael Norman se 44.10 s was die vinnigste in die uitdunne.
Die 21-jarige Pillay, wat aanvanklik sterk gelyk het, het in die pylvak begin swaar trek en moes met die sewende plek en 'n tyd van 45.60 s. tevrede wees.
Albei sal Maandag aan heruitdunne, wat die eerste keer op 'n Olimpiese Spele ingespan word, moet deelneem om op dié manier deur te dring. Net die eerste drie atlete in elke uitdun het outomaties hul plekke in die halfeindronde bespreek.
Wayde van Niekerk, Suid-Afrika se wêreldrekordhouer in dié item (43.03 s) neem nie vanjaar aan die item deel nie. Hy hardloop Dinsdagaand in die eerste uitdunne van die 200 m en sal waarskynlik ook in die 4x100 m- en 4x400 m in aksie wees.
Dié Suid-Afrikaanse atlete is Maandag in aksie:
Diskusgooi: 10:10: Francois Prinsloo (eerste uitdun); 11:35: Victor Hogan (tweede uitdun).
400 m vir vroue: 11:55: Miranda Coetzee (sesde uitdun).
200 m vir mans 19:55: Wayde van Niekerk (eerste uitdun), Benjamin Richardson (derde uitdun), Shaun Maswanganyi (vyfde uitdun).



















