Simbine loop medalje net-net mis

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister

Jammer, Akani, jammer!

Suid-Afrika se Akani Simbine se heel beste was Sondagaand in Parys net-net nie genoeg om hom 'n medalje op die Olimpiese Spele te laat wen nie.

Suid-Afrika se Akani Simbine (middel) het Sondagaand net-net nie 'n medalje in die eindronde van die 100 m op die Olimpiese Spele in Parys verower nie. Hy is met 'n tiende van 'n sekonde om die bronsmedalje geklop. Foto: AP
Suid-Afrika se Akani Simbine (middel) het Sondagaand net-net nie 'n medalje in die eindronde van die 100 m op die Olimpiese Spele in Parys verower nie. Hy is met 'n tiende van 'n sekonde om die bronsmedalje geklop. Foto: AP

Met die beste tyd van sy lang loopbaan, 'n briljante 9.82 sekondes, 'n Suid-Afrikaanse rekord, moes hy met die vierde plek tevrede wees.

Die Amerikaner Noah Lyles, die gunsteling, het gewen in sy vinnigste tyd nog (9.79, wind: 1.0 m/s), met Kishane Thompson van Jamaika tweede, ook in 9.79, gevolg deur die Amerikaner Fred Kerley (9.81) wat die bronsmedalje voor die 30-jarige Simbine se neus weggeraap het.

Soos die tye aandui, kon 'n mens die eerste vier atlete onder 'n kombers toegooi toe hulle oor die eindstreep geblits het. Die stadigste tyd was Jamaika se Oblique Seville (9.91) wat agtste was.

Die laaste keer dat Suid-Afrika 'n medalje in die 100 m op die Olimpiese Spele kon wen, was in 1908 in Londen toe die 19-jarige Reggie Walker die goue medalje verower het.

Simbine, wat die derde keer in 'n ry die eindronde van die 100 m gehaal het, het nou al twee keer vierde en een keer vyfde geëindig.

As daar een atleet is wat 'n medalje verdien het, is dit dié nederige mens wat met die openingseremonie van die Spele een van Suid-Afrika se vlagdraers was.

Simbine, wat al jare lank deur Werner Prinsloo afgerig word, het ook al vyf keer die eindronde in dié item op die Wêreldkampioenskappe gehaal en kon ook nog nie hier 'n medalje wen nie,

Hy het vroeër Sondagaand sy halfeindronde-uitdun in 9.87 gewen.

'n Ander Suid-Afrikaner, Benjamin Richardson, het so byna-byna ook die eindronde gehaal toe hy met 'n tyd 9.95 derde was in die derde halfeindronde-wedloop vroeër die aand.

Richardson het nie deurgedring nie omdat slegs die eerste twee atlete in elke uitdun, asook die twee ander vinnigste atlete, vir die eindronde kwalifiseer.

Die Suid-Afrikaners se goeie vertonings dui ook op 'n moontlike stewige vertoning deur Suid-Afrika later in die week in die 4x100-aflos.

Die goeie vertonings deur die naellopers het afgevee op die 800 m-atleet Prudence Sekgodiso.

Sy het kort voor die eindronde van die 100 m die eindronde van die 800 m vir vroue Maandagaand bereik deur 'n strategies puik wedloop te hardloop en tweede in haar halfeindronde-uitdun te eindig in 1:57.57.

Net die Brit Keely Hodgkinson (1:56.86), die groot gunsteling, het haar geklop.

'n Verheugde Prudence Sekgodiso kort nadat sy Sondagaand tot die eindrondte deurgedring het. Foto: AP
'n Verheugde Prudence Sekgodiso kort nadat sy Sondagaand tot die eindrondte deurgedring het. Foto: AP

"Het julle gesien! Ek is regstreeks, met 'n groot Q (vir qualifying) agter my naam, deur tot die eindronde," het dié 22-jarige bondel energie gesê toe sy die Suid-Afrikaanse joernaliste ná die wedloop sien.

"Ek wil nou net by my afrigter (Samuel Sepeng, broer van die voormalige 800 m-silwermedaljewenner Hezekiel Sepeng) uitkom, dan kan ons saam huil.

"Ek het baie lekker gehardloop," het dié boorling van die Tzaneen-omgewing in Limpopo trippelend gesê terwyl bloed ten haar een kuit afgeloop het nadat sy iewers in die wedloop deur iemand se spykerskoen getref is.

"Oukei, baai, sien julle môre aand. Julle moet vir my bid, hoor!"

Vroeër die aand kon Zakithi Nene (45.01) en Leith Pillay (45.60) nie regstreeks tot die halfeindronde van die 400 m vir mans deurdring nie.

Albei sal Maandag aan heruitdunne, wat die eerste keer op 'n Olimpiese Spele ingespan word, moet deelneem om op dié manier deur te dring.

Dié Suid-Afrikaanse atlete is Maandag in aksie:

Diskusgooi - 10:10: Francois Prinsloo (eerste uitdun); 11:35: Victor Hogan (tweede uitdun).

400 m vir vroue - 11:55: Miranda Coetzee (sesde uitdun).

200 m vir mans - 19:55: Wayde van Niekerk (eerste uitdun), Benjamin Richardson (derde uitdun), Shaun Maswanganyi (vyfde uitdun).

Eindronde van die 800m vir vroue - 21:27: Prudence Sekgodiso.

Sarel van der Walt in Parys

SPELETJIES VANDAG

CTA