
Die reëngode het Saterdag 'n stokkie gesteek voor Tyrone Pillay se droom om die Paralimpiese podium te betree.
Pillay het vyf jaar gelede in Rio de Janeiro brons in die gewigstoot (F63) verower en was vol moed dat hy vanjaar daarop kon verbeter. Op die aand van sy kompetisie is Tokio se Nasionale Stadion egter deur swaar reën gepeper.
Die Durbaniet, die enigste deelnemer aan sy eindronde wat 'n kunsbeen het, het tydens sy opwarming gegly en sy rug seergemaak. Daarna moes hy met 'n beste poging van 11.94 meter en die agtste plek tevrede wees.
Goud is verower deur die Brit Aled Davies, wat die maatband tot 15.33 meter kon rek.
Elders in die stadion het die 16-jarige Simoné Kruger in haar Paralimpiese buiging vyfde in die diskusgooi (F38) geëindig, danksy 'n beste poging van 31.51 m.
Die tiener het self nie 'n wonderlike tyd in die reën gehad nie en met net een van haar eerste drie gooie 'n afstand geregistreer. Daardie 26.52 was net-net genoeg om haar in die top-8 te kry en nog drie keer te laat gooi. Sy het met haar vierde poging opgeskuif tot die vyfde plek.
"Dinge het nie vandag heeltemal gegaan soos ek beplan het nie, maar terselfdertyd kon ek nie gevra het vir 'n beter Spele en beter toestande om te leer uit my foute nie," het sy gesê.
"Ek was agtste ná die eerste drie gooie, so (die vyfde plek) is reeds iets om te vier. En net dat ek hier kon deelneem is net soveel werd soos 'n medalje."
Op die tartan was dit 'n dag om te koester vir die T44-naelloper Mpumelelo Mhlongo, nadat hy 'n nuwe 200m-wêreldrekord in die uitdunne opgestel het.
Mhlongo se tyd van 22.81 meter het hom in die eindronde gekry, maar 'n medalje was altyd onwaarskynlik, met al sewe sy teenstanders in die T64-klas.
T64-atlete hardloop met een prostese weens 'n been-amputasie onder die knie, maar hardloop oor die algemeen vinniger as T44-atlete, wat 'n spierverswakking in een been het maar nie 'n prostese gebruik nie.
Die Suid-Afrikaner was in die nat aandsessie vyfde in sy eindronde met 'n tyd van 22.86. Costa Rica se Sherman Guity Guity het met 'n Paralimpiese T64-rekord van 21.43 geseëvier.
"Ek het uitgestap om elke tree te geniet en net alles gegee (vir die wêreldrekord), het Mhlongo ná die uitdunne gesê. "Ek wou net waardeer om hier te wees, om te leef en deel te neem."

Anruné Weyers, wat verlede Saterdag goud in die 400 m (T47) gewen het, het haar Spele-loopbaan afgesluit met 'n vierde plek in die 200.
"Ek het gevra vir reën en dit het gekom, so ek is dankbaar dat ek dit kon ervaar om by 'n Spele in die reën te hardloop," het die 28-jarige gesê ná sy 'n seisoenbeste tyd van 25.51 sekondes opgestel het. Sy het 0.46 sekondes buite die medaljes geëindig, en byna 'n sekonde ná die wenner, Lisbeli Vera Andrade (24.52).
"Ek het hierheen gekom om saam met God te hardloop en vreugde te ervaar, en dít het ek van die begin tot die einde van die Spele gehad. Maar ek moet sê ek is nou tevrede om my tasse te pak en huis toe te gaan, en om wat ek hier ervaar het saam met die res van my mense te vier," het Weyers, wat haar man in Julie laas gesien het, bygevoeg.
Die 50-jarige Zanele Situ ('n Paralimpiese spiesgooi-kampioen in 2000 en 2004) het in haar sesde Spele 'n vyfde plek in die T54-eindronde van die spiesgooi behaal.
Sy het 'n beste afstand van 16.22 meter opgestel - byna een en 'n halwe meter verder as die 14.87 waarmee sy in sowel Sydney as Athene koning gekraai het.
"Dit was 'n goeie kompetisie," het sy gesê. "Ek het gehoop om by 17 meter uit te kom, maar selfs dan sou ek nie in die medaljes gewees het nie, so ek het besluit om myself net te geniet."
Die Nigeriër Flora Ugwunwa het goud met 'n yslike afstand van 19.39 m ingeoes.
• Net een item bly nou oor op Span Suid-Afrika se skedule, met Louzanne Coetzee van 23:50 Saterdagaand (SA tyd) in aksie in die marathon vir T12-atlete met 'n siggestremdheid.
Coetzee het vroeër vandeesweek silwer in die 1 500 m gewen, en daarna gesê sy het nie soortgelyke verwagtinge in die marathon nie.









