Die drie Wêreldbeker-toernooie waarin elk gespeel het en hul gesamentlike ervaring van 229 toetse, maak dit vir die Springbok-keurders baie moeilik om Duane Vermeulen, Willie le Roux en Handré Pollard nie ernstig te oorweeg vir hul 23-tal vir Sondag se kwarteindronde teen Frankryk in Saint-Denis nie.
Jacques Nienaber maak die Bokke se 23-tal Vrydag om 09:00 by Roland Garros bekend. Die Franse kondig hul span om 11:30 by Parys se bekendste tennisstadion met sy rooi kleibane aan.
In die beseerde Malcolm Marx se afwesigheid het Ierland in Saint-Denis die Suid-Afrikaners se tekortkominge by die afbreekpunte uitgelig. Vermeulen het nie die 23-tal vir daardie groepwedstryd gehaal nie.
Vermeulen kan teen Frankryk veral 'n waardevolle bydrae maak by die Bokke se aanvallende afbreekpunte, waar dinge onder meer teen Ierland skeefgeloop het.
Sover in vanjaar se toernooi was Franco Mostert 44 keer eerste by die Bokke se aanvallende afbreekpunte, gevolg deur Siya Kolisi se 42 keer, Frans Malherbe se 37, Vermeulen se 34 en Kwagga Smith se 34.
Wat die Suid-Afrikaners se verdedigende afbreekpunte betref, loop Deon Fourie voor met die 19 keer wat hy eerste daar was van die Bokke.
Kort op sy hakke is Steven Kitshoff met 17 keer, gevolg deur Kolisi met 16, Jasper Wiese se 16 en Smith se 14.

Vermeulen kan met sy leierskap ook 'n belangrike rol speel met die sowat 60 000 Franse ondersteuners wat by Sondag se kwarteind verwag word.
Die skare sal 'n bydrae tot die Franse span probeer lewer deur die Bokke en die Kiwi-blaser, Ben O'Keeffe, onder geweldige druk te plaas deur onder meer vir beslissings te fluit.
Die 37-jarige Vermeulen het al in 73 toetse gespeel sedert hy op 8 September 2012 sy toetsbuiging teen Australië in Perth gemaak het.
Sou die Bokke besluit om Vermeulen te kies vir sy grondspel en leierskap, kan die sterke derduiwel Jasper Wiese onder druk wees om sy plek te behou.
Wiese is ‘n bielie-baldraer, maar Vermeulen is 'n beter grondspeler.
Pollard en Le Roux se leierskap en ervaring kan net soveel werd soos Vermeulen s'n wees wanneer die verdedigende WB-kampioen teen die gasheerland voor sy duisende passievolle toeskouers te staan kom.
Koelkoppe sal benodig word vanweë die verwagte druk waaronder die fanatiese Franse skare die Bokke in die Stade de France sal plaas.
Daar is plek vir beide die 29-jarige Pollard en 26-jarige Manie Libbok in die 23-tal.
Pollard het al 66 toetse se ervaring sedert hy op 28 Junie 2014 sy toetsbuiging teen Skotland in die Baai gemaak het.
Aangesien daar onder meer bykomende speeltyd in die uitklopfase van die WB is, sou die telling gelykop ná normale speeltyd wees, sal die Bok-keurders moet besluit wanneer in die kwarteind hulle Pollard of Libbok die nodigste op die veld sal hê.
Libbok het terloops in Donderdag se oefening in Parys, wat in koeler weer plaasgevind het, die beste na die pale geskop in die tydperk wat die joernaliste by die Bok-oefeninge in vanjaar se WB toegelaat word.
Besluit die Bok-keurders, wat Peter Jooste en James Stoffberg insluit, die 34-jarige Le Roux se ervaring is belangrik, is daar waarskynlik net plek op die bank vir hom aangesien Damian Willemse goeie spel teen Ierland gelewer het.
Le Roux se moontlike betrokkenheid in die kwarteind sal selfs beteken dat die Bokke eerder ‘n 5/3-bank as 'n 6/2-bank kies. Dis hoogs onwaarskynlik dat Suid-Afrika 'n 7/1 sal kies.
Le Roux het al in 90 toetse gespeel sedert hy sy toetsbuiging op 8 Junie 2013 teen Italië in Durban gemaak het.
Hy, Pollard en Vermeulen weet reeds of hulle Sondag speel, aangesien Nienaber en Rassie Erasmus die 23-tal al intern aan die spelers aangekondig het.
Die Franse sal soos die res van die wêreld eers Vrydagoggend bevestiging kry of Vermeulen-hulle wel in die kwarteind betrokke is.
Nog een van die Bokke se seniors en leiers, Lukhanyo Am, behoort die kwarteind mis te loop.
Een van die Bokke se hulpafrigters, Mzwandile Stick, het reeds in Toulon gesê die 29-jarige Am se kanse is ná sy kniebesering beter om vir 'n halfeindronde oorweeg te word.
Die Bokke wil sy knie eers onder 'n hoë werklading op die oefenveld toets voordat hy oorweeg word.




















