Jake vra Duane se hulp

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister

Die Bulle wil Duane Vermeulen weer in die volgende twee weke vra om te help met hul rolmale.

Vermeulen het die Bulle vroeër vanjaar met hul rolmaalbewegings bygestaan, en Jake White was eindeloos beïndruk met sy bydrae.

Die tweemalige Wêreldbeker-wenner Duane Vermeulen gaan sy kennis met die Bulle-voorspelers deel. Foto: Gallo Images
Die tweemalige Wêreldbeker-wenner Duane Vermeulen gaan sy kennis met die Bulle-voorspelers deel. Foto: Gallo Images

White sê die Bulle se goeie dryfmale in hul oorwinning van 40-22 oor die Stormers in die Verenigde Rugbykampioenskap was grootliks danksy Vermeulen se insette en Andries Bekker, wat dit behoorlik by sy spelers ingedril het.

"Dít was altyd Duane se sterk punt as 'n speler," sê White.

"Hy verstaan van lynstaanverdediging en die opstel van rolmale. Enige kennis wat hy kan oordra na die spelers, is baie belangrik. Dis beslis 'n afdeling waarin ons kan verbeter," sê White, die Bulle se direkteur van rugby.

White is tevrede met die vordering wat die Bulle met hul dryfmale in die kragmeting met die Stormers gemaak het.

"Ons wil graag hê dit moet soos van ouds deel van ons mondering wees. As hy 'n goeie bydrae daarmee kan lewer, sal ons hom voortdurend vra om seker te maak dat hy en Andries mekaar help."

Bekker is sedert verlede jaar die Bulle se voorspeler-afrigter.

Die 37-jarige Vermeulen is vroeër vanjaar as een van die Suid-Afrikaanse Rugbyunie (Saru) se afrigters van sy mobiele eenheid aangestel.

Hy sal by al die nasionale spanne hand bysit.

Vermeulen was juis die afgelope week teenwoordig by die Bokke se belyningskamp wat in die Kaap plaasgevind het.

Hy, Bafana Nhleko en Franzel September is die afrigters van die mobiele eenheid. Saru laat hulle toe om unies op versoek te help.

Vermeulen het 'n sagte plek vir die Bulle nadat hy hulle in 2020 en 2021 verteenwoordig het.

White het hom teen einde verlede jaar die pos as hul verdedigingafrigter aangebied, maar hy wou graag in die Kaap bly en het uiteindelik die pos by Saru aanvaar.

Die Stormers het tot onlangs ook probeer om Vermeulen te kontrakteer voordat die gewese Bok-losvoorspeler deur Saru aangestel is.

SPELETJIES VANDAG

CTA