Die heelagter Leigh Halfpenny sal Saterdag in sy honderdste toets vir Wallis speel wanneer dié land in 'n opwarmingswedstryd vir die komende Wêreldbeker-toernooi teen Engeland in Cardiff te staan kom.
Warren Gatland, hoofafrigter van Wallis, het ook besluit om vyf spelers in sy 23-tal te kies wat hul debuut vir die Rooi Drake sal maak.
Halfpenny is die laaste paar seisoene deur beserings geteister, maar kry nou weer 'n kans om 'n plek in die WB-groep oop te speel.
Gatland het nie juis 'n ander keuse gehad as om 'n paar nuwelinge te kies nie, aangesien verskeie staatmakers beseer is of, soos Alun Wyn Jones en Justin Tipuric, uitgetree het.
Keron Assiratti (vaskopstut), Corey Domachowski (loskopstut) en Max Llewellyn (senter) is die drie nuwelinge in die beginspan.
Die twee nuwelinge op die plaasvervangersbank is die stut Henry Thomas en die losvoorspeler Taine Plumtree, die seun van die Haaie se nuwe hoofafrigter en voormalige All Black-hulpbreier, John Plumtree.
Die 31-jarige Thomas het in 2013 en 2014 sewe toetse vir Engeland gespeel, maar hy kwalifiseer vir Wallis deur sy pa, wat in Swansea gebore is. Hy kan nou vir Wallis speel omdat hy nie die afgelope drie jaar vir Engeland in aksie was nie.
Die oopkantflank Jac Morgan, wat saam met Christ Tshiunza en Aaron Wainwright die lostrio vorm, sal die span lei.
Dafydd Jenkins en Will Rowlands is die slotte en Ryan Elias die haker.
Gerald Davies is die skrumskakel en Sam Costelow die losskakel, George North en Llewellyn die senters en Rio Dyer en Louis Rees-Zammit die vleuels.
"Daar is goeie mededinging in die groep in al die posisies en ons het hierdie week 'n span met 'n paar nuwelinge gekies, want ons wil sien wat hulle kan doen," het Gatland in 'n verklaring gesê.
• Wallis: Leigh Halfpenny, Louis Rees-Zammit, George North, Max Llewellyn, Rio Dyer, Sam Costelow, Gareth Davies, Aaron Wainwright, Jac Morgan (k), Christ Tshiunza, Will Rowlands, Daffyd Jenkins, Keiron Assiratti, Ryan Elias, Corey Domachowski. PLAASVERVANGERS: Elliot Dee, Nicky Smith, Henry Thomas, Ben Carter, Taine Plumtree, Tomos Williams, Dan Biggar, Mason Grady. -Reuters





















