Ackers se assistente verlaat Japan

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister

Johan Ackermann se Suid-Afrikaanse hulpafrigters, Rory Duncan en Neil de Bruin, maak aan die einde van die seisoen klaar by hul Japanse klubspan, Urayasu D-Rocks.

Hulle was Ackermann se hulpafrigters vir die afgelope vier jaar in Japan - twee jaar by die Docomo Red Hurri­canes en die afgelope twee jaar by die Urayasu D-Rocks.

Rory Duncan, die voormalige hoofafrigter van die Engelse klubspan Worcester Warriors.
Rory Duncan, die voormalige hoofafrigter van die Engelse klubspan Worcester Warriors.

Duncan en De Bruin het hulle tyd in Japan en saam met Ackermann geniet, maar albei voel dit is tyd om aan te beweeg, verneem Rapport by 'n ingeligte.

'n Belangrike rede vir Duncan se besluit is dat sy gesin in Europa aangebly het en hy sonder hulle in Japan moes klaarkom. Hy was van 2018 tot 2020 die hoofafrigter van die Engelse klubspan Worcester Warriors.

Voor dit was die 46-jarige Duncan die Cheetahs se direkteur van rugby tussen 2014 en 2017 en die Vrystaters se hoofafrigter tussen 2017 en 2018.

Die voormalige Vrystaatse slot en kaptein het ook spanne soos Grey PE en die o. 21's van die Vrystaat afgerig.

De Bruin is die seun van die voormalige Springbok-hulpafrigter Swys de Bruin. Onder sy afrigting druk die Urayasu D-Rocks gemiddeld agt drieë per wedstryd.

De Bruin was tussen 2016 en 2018 die Leeus se hoof van hoëprestasie-afrigting, voordat hy hul agterlyn tussen 2018 en 2020 afgerig het. Daarna het hy hom by Ackermann in Japan aangesluit.

De Bruin en Duncan is reeds in gesprekke met ander spanne om hul loopbane later vanjaar elders voort te sit.

Ackermann self het vroeër aan Rapport gesê hy het nog 'n jaar oor by die Urayasu D-Rocks.

Hy het wel ook die opsie om aan die einde van die seisoen klaar te maak. Die Japanse seisoen eindig einde Mei.

Ackermann het gesê hy sal dit geniet om weer in Suid-Afrika af te rig.

SPELETJIES VANDAG

CTA