
Die Springbok-spanaankondiging vir die tweede toets teen Georgië, wat vir Dinsdag beplan was, is tot verdere kennisgewing uitgestel.
Dit kom in die nadraai van die Bok-slot Lood de Jager wat Maandag vir Covid-19 positief getoets is en hy en sy spanmaats wat sedertdien in isolasie geplaas is.
Daar word nou gewag vir die sogenaamde mediese adviesgroep (MAG) se aanbeveling nadat al die spelers in die Springbok-groep weer Dinsdagoggend getoets is.
Die Suid-Afrikaanse Rugbyunie (Saru) sê in 'n verklaring die Springbokke bly tot dan in "voorkomende isolasie".
Suid-Afrika het die eerste toets teen Georgië Vrydagaand op Loftus Versfeld met 40-9 gewen, maar daar is ná dese vrae oor die moontlikheid daarvan dat Vrydag se tweede toets op Ellispark in die gedrang kan wees. - Cobus Claassen





















