
Die Engelsman Elliot Daly sal die Britse en Ierse Leeus se teenvoeter vir Frans Steyn wees op hul Suid-Afrikaanse toer in Julie en Augustus.
Daly, 'n veelsydige agterspeler, het die meeste van sy toetse vir Engeland op heelagter en daarna vleuel gespeel. Trouens, hy het laas in 2016, sy debuutjaar vir die Rose, 'n toets op senter begin.
Op die Leeus se amptelike spanlys word daar egter aangedui dat hy 'n senter is. Soos in die geval van Steyn, kan hy in die meeste posisies in die agterlyn speel. En soos Steyn kan hy strafskoppe onder groot druk van ver agter die middellyn af deur die pale jaag.

Neil Jenkins, die Leeus se skopafrigter, het juis daardie punt benadruk toe hy joernaliste Donderdag te woord gestaan het ná die bekendmaking van die toergroep.
"Ons beskou hom as 'n senter en glo dat hy die vaardighede het om op toetsvlak in daardie posisie te speel," sê Jenkins.
"Hy's 'n fantastiese rugbyspeler met die vermoë om senter, vleuel of heelagter te speel. Hy's vinnig en 'n baie, baie goeie langafstand-stelskopper.
"Stelskopwerk gaan 'n yslike rol in die reeks speel. Sy langafstand-skop teen die All Blacks vier jaar gelede het ons in staat gestel om die reeks met hulle te deel. Op die Hoëveld in Johannesburg kan sy sterkpunte van groot waarde vir ons wees. Nie net wat stelskopwerk betref nie. Hy's 'n baie goeie rugbyspeler."

Warren Gatland, die Leeus se afrigter, het met die bekendmaking van die groep die lof van die Ierse paar van Bundee Aki en Robbie Henshaw besing. Die Skot Chris Harris is die ander senter in die groep.
Die Engelsman Owen Farrell, wat as 'n losskakel gekies is, kan natuurlik ook met groot gemak as binnesenter speel indien Gatland voel dat hy eerder vir Dan Biggar of Finn Russell die nr. 10-trui wil gee.
Trouens, dit sal nie verbasend wees indien Gatland vir Daly as 'n plaasvervanger in gedagte het nie - soos Rassie Erasmus in sy tyd as Springbok-afrigter met Steyn gedoen het.
Daly het wel as die Leeus se linkervleuel begin vir sy kritieke skop in die gelykopstryd van 15 elk teen Nieu-Seeland op Eden Park in 2017.
Jenkins meen Daly se skopwerk uit die hand is ook goed en kan die Leeus in staat stel om in hul teenstanders se halfgebied te speel.
"Op hierdie vlak moet jy jou speelwerk in die regte gebiede van die veld doen. Jy kan nie lukraak van jou eie doellyn af probeer met die bal hardloop nie. As die geleentheid hom voordoen, ja. Hy het egter die vermoë om aanvallend goed te skop en is daarmee saam 'n slim rugbyspeler," sê Jenkins.
Hy meen Daly kan die bal van 60 meter af oorskop.
"Dis 'n yslike wapen. Ons het dit op Eden Park gesien."





















