
Gegewe die skaal van die pyn en lyding tans in Suid-Afrika weens die Covid-19-pandemie, was dit geen verrassing nie dat die Britse en Ierse Leeus Dinsdag gevra is of dit vanpas is om tans in dié land te wees.
Volgens Conor Murray, hul nuwe kaptein, het daardie gedagtegang nog nie by hulle posgevat nie, maar hy en die voorspeler-afrigter, Robin McBryde, het albei beklemtoon dat hulle hoop om 'n bietjie verligting aan Jan en Alleman te bring.
"Ons is uiteraard baie bewus van wat buite gebeur met die staat van inperking," sê Murray.
"Ons is hier om mense hopelik te laat glimlag - in Suid-Afrika en by die huis. Die mense laat ons sedert ons aankoms baie welkom voel. As ons bus by 'n verkeerslig stop, is daar mense wat hul toeters blaas en vir ons waai. So ek dink daar is 'n positiewe gevoel oor ons teenwoordigheid.
"Natuurlik is ons deeglik bewus van die situasie buite ons hotel. Ons beweeg letterlik tussen die hotel en oefenveld, en is baie beperk wat ons bewegings betref."
McBryde sê dat die Leeus voor hul vertrek uit Edinburg 'n inligtingsessie met hul mediese span oor die situasie in Suid-Afrika gehad het.
"Niemand is onder enige illusies in terme van hoe ernstig dit (die pandemie) in Suid-Afrika is nie, en dat ons almal 'n plig en rol het om te speel om seker te maak dat ons al die vereistes 100% nakom," sê McBryde.
Maar ons is gemaklik in ons omgewing, weet wat voorlê en moet nou net ons moue oprol.
— Robin McBryde
"Ons besef hoe gelukkig ons is om hierdie geleentheid te hê. Ek sou nie sê dat ek vol vertroue is dat alles 100% volgens plan sal verloop nie, want dinge kan baie vinnig gebeur. Maar ons is gemaklik in ons omgewing, weet wat voorlê en moet nou net ons moue oprol."
Die donker atmosfeer wat in Suid-Afrika heers, het nie na die Leeus se kamp toe oorgespoel nie, sê McBryde.
"Daar's vier lande (Engeland, Skotland, Wallis en Ierland) wat byeenkom, met almal wat 'n bietjie van 'n ander siening oor sake het. Jy moet mense se kultuur en hul beskouing van die spel geniet," sê hy.
"Ons bestee meer tyd saam as op vorige toere en dit stel ons in staat om meer kreatief te wees.
"Tot dusver gaan dit baie goed. Ons kry oral waar ons gaan 'n groot verwelkoming en ons kok, André, maak seker dat ons meer as gelukkig is met ons kos. Die afrigters is, ongeag hoe ons lyk, ook daartoe in staat om snaaks te wees wanneer ons wil!"

Die Leeus het vrede daarmee dat toeskouers nie by wedstryde toegelaat sal word nie. In die verlede het ondersteuners van Brittanje en Ierland in hul tienduisende opgedaag om die toerspan te ondersteun.
"Ons het altyd geweet dis 'n moontlikheid. Dit was baie lekker om ondersteuners in Edinburg (vir die wedstryd teen Japan) te hê, maar ons besef steeds hoe gelukkig ons is dat hierdie toer voortgaan en om mense te kan laat glimlag," sê McBryde.
Die eensaamheid kan selfs 'n laertrek-mentaliteit by die Leeus laat posvat, meen McBryde.
"In 'n ideale wêreld sou ons tyd saam met ons gesinne en ondersteuners kon deurbring, maar dis nie nou die geval nie," sê hy.




















