Rugby

‘Omstrede’ stut kry kans om loopbaan by Pumas voort te sit

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister
Kudzwai Dube in 2022 in ’n Curriebeker-wedstryd tussen die Griekwas en die Leeus by die Universiteit van die Witwatersrand in Johannesburg.
Kudzwai Dube in 2022 in ’n Curriebeker-wedstryd tussen die Griekwas en die Leeus by die Universiteit van die Witwatersrand in Johannesburg. ( Foto: Gallo Images)

’n Rugbyspeler wat verlede jaar ’n man in ’n drankwinkel met ’n gebreekte bottel gesteek het, het nou ’n kontrak gesluit om vir die Pumas te speel.

Die Pumas, wat in Mbombela gesetel is, het vandeesweek bekend gemaak dat hulle die stut Kudzwai Dube (25) se dienste bekom het. Hy was vanjaar by die Oostelike Provinsie, maar het weens ’n kniebesering nie in enige wedstryde gespeel nie.

Ten tyde van die voorval by die drankwinkel in April 2024 in Kariega in die Oos-Kaap was Dube nog by die Griekwas gekontrakteer.

George Malgas, wat Dube se prokureur was en ook die president van die OP Rugbyunie is, het vandeesweek by navraag gesê dat die aanklagte teen sy kliënt teruggetrek is. Dube, wat tereggestaan het op aanklagte van aanranding met die opset om ernstig te beseer, sowel as opsetlike saakbeskadiging, is destyds deur die hof vir waarneming gestuur. Dit was om te bepaal of Dube geskik is om verhoor te word en of hy geweet het wat hy gedoen het ten tyde van die misdryf.

“Hy (Dube) het ’n persoon met ’n gebreekte bottel in die omgewing van sy maag gesteek. Die man is hospitaal toe waar hy behandeling ontvang het. Gelukkig was daar geen ernstige skade nie, maar hy moes wel steke kry,” het Malgas gesê.

“Hy (Dube) het sielkundiges gesien en daar is ook bloedtoetse gedoen om te bepaal of hy onder die invloed van enige dwelmmiddel was. Al die toetse (vir dwelms) het negatief teruggekom.”

Kudzwai Dube sit in 2019 voet in die hoek in ’n kragmeting tussen die Junior Bokke en Argentinië in die o. 20-Wêreldtoernooi in Argentinië.
Kudzwai Dube sit in 2019 voet in die hoek in ’n kragmeting tussen die Junior Bokke en Argentinië in die o. 20-Wêreldtoernooi in Argentinië. (Foto: Getty Images)

Malgas sê die sielkundiges wat met Dube gewerk het, het bevind dat hy ten tyde van die voorval onder geweldige stres verkeer het.

“Daar het bemiddeling met die staat plaasgevind en die man se mediese onkoste is betaal. Hy (die slagoffer) was tevrede daarmee. Daar is ook ’n bietjie skade aan die drankwinkel aangerig, ’n paar bottels is gebreek, ensovoorts, wat toe vergoed is. Die saak is suksesvol bemiddel.”

Deel van die vereistes waaraan Dube moes voldoen, is dat hy ’n kursus moes voltooi waarin hy onder meer geleer het hoe om konflik te hanteer.

“Omdat hy skadevergoeding betaal het, sowel as die mediese koste van die man wat beseer is en ook omdat hy die program voltooi het, is die aanklagte toe teen hom teruggetrek,” sê Malgas.

George Malgas, wat Kudzwai Dube se prokureur was, is ook die president van die Oostelike Provinsie Rugbyunie.
George Malgas, wat Kudzwai Dube se prokureur was, is ook die president van die Oostelike Provinsie Rugbyunie. (Foto: Michael Green)

Malgas sê Dube het hom so twee weke gelede gebel met die nuus dat hy ’n geleentheid gekry het om vir die Pumas te speel.

“Hy was regtig dankbaar dat ons hom die kans gegee het om hier by die OP te wees. Hy was in sak en as en niemand wou iets met hom te doen hê nie,” sê Malgas.

“Eerlikwaar, die tyd toe hy hier by ons was, het hy sy kant op die oefenveld gebring. Hy het hard geoefen en sou beslis ’n aanwins vir ons gewees het.”

Dube, wat in 2019 vir die Junior Bokke diens gedoen het, is ’n voormalige kaptein van die Bulle se o. 21-span.

Jimmy Stonehouse, afrigter van die Pumas, sê Dube verdien ’n regverdige kans.

“Ek moet hom ’n regverdige kans gee, hy is nie skuldig bevind nie en ook nie tronk toe gestuur nie.”

– marnus.kok@24.com

SPELETJIES VANDAG

Spesiaal vir intekenare!CTA

Elke dag ’n nuwe blokraai, sudoku en woordblom asook ’n weeklikse vasvra élke Vrydag. 

SPEEL SAAM