Daar is steeds geen keer aan die Blitsbokke in die Hongkong-sewestoernooi nie.
Die Suid-Afrikaners het Samoa Saterdag met 26-7 in hul laaste Groep C-wedstryd geklop. Vrydag het hulle met Ierland (22-17) en Spanje (24-10) afgereken.
Met die sege oor Samoa het die Blitsbokke verseker dat hulle eerste in hul groep eindig - die eerste keer sedert die Dubai-toernooi aan die begin van Desember dat hulle dit kon regkry.
Die Blitsbokke en Australië is Saterdag om 12:01 in die kwarteindronde slaags.
In die eerste helfte van die wedstryd teen Samoa het Suid-Afrika drie keer agter die doellyn gaan kuier. Dit het die telling teen rustyd 19-0 gemaak. In die eerste helfte is Ryan Oosthuizen met 'n geel kaart afgestuur vir 'n ontoelaatbare duikslag.
In die tweede helfte is Christie Grobbelaar ook met 'n gele afgestuur. Hy was skaars van die veld af, toe gaan druk Samoa 'n drie.
Laat in die wedstryd het Shaun Williams sy vaart en voetwerk tentoongestel om die Blitsbokke se vierde drie te gaan druk.
Benewens die twee geel kaarte het die Blitsbokke 'n paar foute gemaak soos om onnodige strafskoppe af te staan en 'n slag is die springer nie in die lynstaan gevind nie. Maar dit lyk of die Blitsbokke 'n goeie naweek in Hongkong kan hê.
• Puntemakers: Suid-Afrika 26 (19): Drieë: Shilton van Wyk, Quewin Nortjé, Impi Visser, Shaun Williams. Doelskoppe: Dewald Human (3).
Samoa 7 (0): Drie: Uaina Tui Sione. Doelskop: Des Sepulona Faoa.






















