Met een of twee sterre wie se lang loopbane tot 'n einde kom, is die Blitsbokke besig om die volgende generasie saam te stel.
Heelwat Varsitybeker-spelers tel onder diegene wat in die laaste tyd in Stellenbosch was en op proeftydperk saam met 'n groter groep geslyp het.
Onder hulle is Rowan Malgas (Universiteit van Johannesburg), Henri van Heerden (Shimlas), Ntokozo Makhaza (Ikeys), Joubert Schoeman (NWU-Arende) asook Thabang Mahlasi van die Cheetahs.
Die jonger spelers het ook as deel van 'n uitnodigingspan aan twee plaaslike sewestoernooie in Nylstroom en Middelburg deelgeneem en sal hoop hulle kan 'n Blitsbok-kontrak losslaan.
Malgas was vroeër vanjaar deel van 'n nasionale sewesakademie-span wat aan twee toernooie in Mauritius deelgeneem het. Hy het in 2024 vir UJ Varsitybeker-rugby gespeel en die Suid-Afrikaanse studente-sewespan by die Wêreld-studenteseweskampioenskap in Frankryk verteenwoordig.
Die Blitsbokke wil graag aan 'n groep vir 2028 se Olimpiese Spele bou.
Netwerk24 het onlangs berig die staatmakers Rosko Specman (35 jaar oud) en Justin Geduld (31) se tyd by die Blitsbokke is verby.
Die Blitsbokke en hul nuwe permanente hoofafrigter, Philip Snyman, trek weer volgende week saam. Snyman was die waarnemende breier en is verlede maand heeltyds tot 2028 se Spele in Los Angeles aangestel.
Dit nadat hy die sukkelende Blitsbokke gehelp het om 'n bronsmedalje by vanjaar se Spele in Parys te wen.





















