Suid-Afrika se vrouespan moes met die tiende plek uit 12 deelnemende spanne in die Perth-sewestoernooi tevrede wees.
Brasilië het Suid-Afrika Sondag met 7-0 in die uitspeelwedstryd om die negende plek in Wes-Australië geklop.
Saterdag het Suid-Afrika Brittanje met 14-12 in 'n groepwedstryd geklop en ook met Spanje (12-7) in 'n halfeind om die negende plek afgereken. Te veel basiese foute het die Suid-Afrikaners Sondag verhoed om 'n derde agtereenvolgende sege te behaal.
Daar was nie enige punte in die eerste helfte van die wedstryd aangeteken nie. Suid-Afrika het in die eerste helfte met goeie verdediging Brasilië min beweegruimte gegee. Ongelukkig het die Suid-Afrikaners 'n paar strafskoppe afgestaan, die bal 'n slag aangeslaan en daarby was daar ook een swak aangee waar die bal oor die kantlyn getrek het.
Vroeg in die tweede helfte het die Suid-Afrikaners se verdediging hul in die steek gelaat en Gabriela Lima het vir Brasilië gaan druk. Haar drie is verdoel om die telling 7-0 te maak.
Suid-Afrika het daarna goed op die aanval vertoon, maar 'n swak aangee en 'n daaropvolgende aanslaan in die Brasiliane se kwartgebied het die moontlikheid van enige punte soos mis voor die son laat verdwyn.
• Puntemakers: Brasilië 7 (0): Drie: Gabriela Lima. Doelskop: Raquel Kochhann. Suid-Afrika 0.




















