Springbokke

Edwill pure goud!

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister
Foto:
Foto:

Die Springbokke se toewyding, intensiteit en Edwill van der Merwe se vyfster-spel in sy debuut-toets is gisteraand deur die Springbok-afrigter, Rassie Erasmus, uitgesonder as die verblydendste aspekte van die Bokke se sege van 41-13 oor Wallis op Twickenham.

"Daar was vooraf 'n bietjie kommer dat ons nog met 'n Wêreldbeker-babelas sou sukkel en net sou dink alles sal vanself vir ons teen Wallis gebeur. Daar was egter nie 'n gebrek aan toewyding en intensiteit nie," sê Erasmus.

" 'n Mens moet verwag dat dinge tyd sal neem om reg te verloop met 'n nuwe verdedigingsafrigter (Jerry Flannery) en aanvalsafrigter (Tony Brown).

"Die telling en drieë was nie belangrik nie. Wat belangrik is, is dat ons mekaar voor, tydens en ná die toets in die oë kon kyk. Dit was ons eerste toets sedert die Wêreldbeker, terwyl Wallis al sedertdien 'n paar Sesnasies-toetse gespeel het.

"Ons wou sekere dinge regkry. Sommiges het ons en ander nie. Dit was allermins 'n perfekte vertoning, met heelwat foute. Ons het byvoorbeeld onnodige foute gemaak en strafskoppe afgestaan toe hulle net 13 spelers op die veld was nadat hulle twee geel kaarte gekry het."

Van der Merwe is deur Erasmus uitgesonder. Hy is 100% oortuig hy is 'n speler van toetsgehalte.

Die 28-jarige vleuel van die Springbokke is as die Speler van die Wedstryd aangewys.

"Al die nuwelinge het gewys hulle kan op dié vlak speel. Sekeres kort skaafwerk in afdelings van hul spel. Edwill het egter gewys hy kan absoluut op die vlak speel," sê die Bok-hoofafrigter.

"Hy het baie gemaklik en vol selfvertroue gelyk. Sy ouderdom het hom moontlik daarmee gehelp.

"Hy het onder meer 'n seker drie met sy duikslae op Liam Williams en Mason Grady in die 23ste minuut gekeer."

Van der Merwe het boonop die mooiste individuele drie van die toets gedruk toe hy minstens vier teenstanders op pad doellyn toe met sy vaart en aftrappe geklop het.

Hy het teen Wallis gewys hy kan net so gevaarlik soos 'n Cheslin Kolbe en Kurt-Lee Arendse op die verdediging en aanval wees. Van der Merwe is wel nie deur Wallis onder die hoë balle getoets nie, 'n afdeling waarin Kolbe en Arendse hulself al bewys het.

Aphelele was uitstekend in sekere afdelings, in ander dinge het hy werk nodig.

Erasmus erken die Walliese toets was dalk nie 'n aanskoulikste affêre nie, maar die Bok-afrigter meen die kragmeting het 'n nodige doel gedien voor 6 en 13 Julie se toetse teen Ierland in onderskeidelik Pretoria en Durban. Die Bok-hoofafrigter sê 'n beseerde soos Lukhanyo Am is reg vir die Iere.

Die Walliese toets was met tye erg onaanskoulik weens onder meer die TV-skeidsregter Mark Patton (Ierland) se gedurige en dikwels onnodige inmenging by die spel.

Suid-Afrika se dissipline wat onnodig met tye gelol het, het ook nie tot 'n skouspel bygedra nie.

Die uitslag verheug Erasmus tog oor die logistieke nagmerrie om die toets wel te kon laat plaasvind, veral met die onsekerheid wat daar was oor die beskikbaarheid van spelers van die Bulle en die Stormers oor hul betrokkenheid by die VRK se uitspeelwedstryde.

Boonop kon hy nie oorsese spelers soos Handré Pollard (hy oefen al drie weke saam met die Bokke), Siya Kolisi (hy het gister saam met die Bokke op Twickenham opgewarm), RG Snyman en Cobus Reinach oorweeg nie, aangesien die toets buite Wêreldrugby se toetsvenster geval het.

Erasmus glo die toets het eindelik sy doel gedien voor 6 Julie se eerste toets teen Andy Farrell se Iere.

"Iets wat voordelig was, was om spelers soos Malcolm Marx en Kwagga Smith speelkans te gee nadat hulle onderskeidelik sowat nege en sewe maande laas rugby gespeel het. Die wedstrydoefening was broodnodig.

"Dis lekker om te sien dat die nuwelinge goed vaar. Ons het in die skrums oorheers, maar ons het beslis nie die kontaksituasies oorheers nie."

Soos in die Wêreldbeker het Ox Nche wéér 'n barshou in die sege oor Wallis geskrum. Nog 'n speler wat volgens Erasmus tevrede met sy vertoning mag voel, is Aphelele Fassi.

"Aphelele was uitstekend in sekere afdelings, in ander dinge het hy werk nodig," sê die Bok-hoofafrigter.

"Hy kan tevrede voel oor sy vertoning. Ek het gedink sy geel kaart was geregverdig. Jy kan dit as roekeloos beskou, maar dit was beslis nie doelbewus nie. Ons kla nie. Ons verstaan dit."

SPELETJIES VANDAG

Spesiaal vir intekenare!CTA

Elke dag ’n nuwe blokraai, sudoku en woordblom asook ’n weeklikse vasvra élke Vrydag. 

SPEEL SAAM