Oudste lewende Springbok op 96 oorlede

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister
Des van Jaarsveldt, ’n voormalige Springbok-kaptein, is Maandag in die ouderdom van 96 dood. Foto: Gallo Images
Des van Jaarsveldt, ’n voormalige Springbok-kaptein, is Maandag in die ouderdom van 96 dood. Foto: Gallo Images

Des van Jaarsveldt, 'n voormalige Springbok-kaptein, is Maandag in die ouderdom van 96 oorlede, het die SA Rugby Legends Maandag aangekondig.

Van Jaarsveldt was voor sy afsterwe die oudste lewende Springbok. Hy het Suid-Afrika in sy enigste toets - 'n oorwinning van 18-10 oor Skotland in 1960 in die Boet Erasmus-stadion in Port Elizabeth (nou Gqeberha) - vanaf die flank-posisie aangevoer.

Dié toets het die doel gedien om blootstelling aan jong spelers te gee voordat die All Blacks later daardie jaar in Suid-Afrika kom toer het. Van Jaarsveldt was toe 31.

Hy het Rhodesië tussen 1947 en 1962 in 62 wedstryde verteenwoordig. Met sy buiging vir dié buurland, teen Noord-Transvaal in 1947, was Van Jaarsveldt maar net 18 jaar oud. Hy het Rhodesië tussen 1958 en 1962 in 19 wedstryde aangevoer.

Ander Bokke wat ook in hul loopbaan vir die eertydse Rhodesië gespeel het, is Ryk van Schoor, Salty du Rand, Andy MacDonald, Ronnie Hill, Ian Robertson, Ray Mordt en David Smith.

Die Legends het Maandag in 'n kort verklaring aan Van Jaarsveldt hulde gebring.

"Hoewel hy net 'n enkele toets in die Groen-en-goud gespeel het, is sy nalatenskap groot. Hy het betrokke gebly in die administrasie van die spel en afrigting en was 'n gewaardeerde vriend en ondersteuner van die Legends," luidens die verklaring.

Mark Alexander, president van die Suid-Afrikaanse Rugbyunie, het Maandag hulde gebring aan Van Jaarsveldt en gesê hy het 'n "diepe liefde" vir die spel gehad en hom beskryf as iemand met 'n "wonderlike" nalatenskap. "Des sal nie net onthou word vir sy prestasies op die veld nie. Hy was 'n goeie atleet en bokser en toegewyd daartoe om sport in Zimbabwe uit te bou," het Alexander gesê.

SPELETJIES VANDAG

CTA