Die Springbokke se spelerspens bult behoorlik sedert Rassie Erasmus, Bok-hoofafrigter, in 2018 aan sy span se diepte begin bou het.
Verlede jaar het hy 50 spelers in 13 toetse gebruik en daarmee die net nóg wyer gespan.
Benewens die groot gros talent wat in Suid-Afrika speel, met al hoe meer Bokke wat terugkeer huis toe, speel van die land se voorste sterre in Europa en Japan.
Rapport se rugbyskrywers Hendrik Cronjé, Jóhann Thormählen en Albert Heenop het keurpaneel gespeel en drie Bok-spanne gekies uit spelers wat hul geld in Suid-Afrika, Europa en Japan verdien.
Die spanne is vir 2025 gekies en nie met die oog op 2027 se Wêreldbeker nie. Van die spelers sal waarskynlik teen dan nie meer die paal haal nie.

Beseerde spelers is ook oorweeg, solank hulle darem weer vanjaar sal kan rugby speel.
Bok-span in SA: Ons soek Siya op nr. 8
Die span bestaande uit spelers wat in Suid-Afrika speel, het weinig verrassings opgelewer, hoewel die samestelling van die lostrio moontlik die oë sal laat rek.
'n Aantal keuses, soos Aphelele Fassi, Sacha Feinberg-Mngomezulu, Grant Williams, Ruan Nortjé, Eben Etzebeth en Ox Nché, was eenparig.
Damian Willemse was een van die ongelukkiges wat nie die beginspan haal nie, maar hy sal beslis op die bank wees. Fassi se spelpeil verlede jaar was egter ongelooflik. Hy het vyf drieë in sy laaste ses toetse gedruk en is duidelik besig om sy potensiaal te verwesenlik.
Met Cheslin Kolbe en Kurt-Lee Arendse in Japan, kry die opwindende Edwill van der Merwe kans op regtervleuel, terwyl die gesoute Lukhanyo Am jong sterre soos Jurenzo Julius en David Kriel uitgestof het om die nr. 13-trui. Dieselfde geld die geharde Bongi Mbonambi, wat die hakerrol behou, ondanks Jan-Hendrik Wessels se kookwaterspel.
Dit bring ons by die lostrio, waar Siya Kolisi, met 92 toetse aan die kant van die Bok-skrum, ons regmerkie as agtsteman kry.
Dis te danke aan John Plumtree, Haaie-breier wat hom op agtsteman inspan, 'n posisie waar Kolisi eenvoudig floreer. Hy het 'n rits Speler van die Wedstryd-vertonings gelewer en sewe drieë, die tweede meeste in die Verenigde Rugbykampioenskapsreeks, gedruk.
Baie mense sou Cameron Hanekom op agtsteman kies, maar dié jong Bul se fenomenale vaart en energie by die afbreekpunte maak hom die ideale oopkantflank.

Bok-span in Europa: Benhard die breker
Benhard Janse van Rensburg se spel is van 'n gehalte wat hoog genoeg is om selfs vir die Bokke in berekening te kom.
Dié 28-jarige boorling van Pretoria kry daarom ál drie van ons skrywers se stem om vir die Europese Bok-span gekies te word.
Wat in sy guns tel, is sy vermoë om losskakel, binnesenter en buitesenter te speel. Sy veelsydigheid maak van hom 'n waardevolle speler as die Bokke weer vorentoe op 'n 6/2- of 'n 7/1-bank besluit. Hy hou Rohan Janse van Rensburg van Bordeaux uit ons span.
Met die samestelling van die span het dit egter duidelik geword dat al hoe minder Suid-Afrikaanse agterspelers deesdae hul brood en botter in Europa verdien. Boonop keer agterspelers soos Handré Pollard (Leicester Tigers na Bulle), Cobus Reinach (Montpellier na Stormers) en Jan Serfontein (Montpellier na Bulle) teen middel vanjaar terug na Suid-Afrika.
Suid-Afrikaanse voorspelers blyk steeds gewild in Europa te wees.
Verskeie bekende voorspelers soos Arno Botha (Lyon), Hanro Liebenberg (Leicester Tigers), Henco Venter (Glasgow Warriors), Marvin Orie (Perpignan), Uzair Cassiem (Bayonne), Sikhumbuzo Notshe (Montauban), Hendré Stassen (Brive), Stephan Lewies en Irné Herbst (albei Harlequins) speel in Europa, maar kon nie 'n plek in ons span kry nie.

Bok-span in Japan: Stutte skaars, maar groot name legio
Hoewel van die grootste name hul brood en botter in Japan verdien, speel daar nie eintlik so baie sterre daar soos wat 'n mens dalk dink nie.
Suid-Afrikaanse stutte is so yl gesaai soos 'n goeie braai in soesji-land. As dit nie was vir Khutha Mchunu, wat al vir die Haaie, die Bulle en die Cheetahs gespeel het en hom onlangs by Arendse se Mitsubishi Sagamihara Dynaboars aangesluit het nie, het ons maar 'n span sonder 'n vaskop in die veld gestoot!
Op loskop moes die keurpaneel selfs wyer soek en het die 29-jarige Matthys Basson van MIE Honda Heat die paal gehaal. Dié oudleerling aan Boland Landbou was voorheen by die Bulle.
Al speel die Bokke se eerstekeusevleuels, Kolbe en Arendse, albei in Japan, was daar ook nie baie opsies in die agterste driehoek nie. So ook nie op losskakel nie.
Japan wemel egter van Suid-Afrikaanse slotte. Benewens Lood de Jager en Franco Mostert wat hulself kies, speel Janko Swanepoel (MIE Honda Heat), David Bulbring, Ruan Botha (albei Kubota Spears), Walt Steenkamp (Dynaboars), Jeandré (Lappies) Labuschagné (Yokohama Canon Eagles) en Adré Smith (Toyota Verblitz) almal daar. Ons kon amper 'n ganse span net uit slotte kies!
Benewens die vleuels, kan die beste senterpaar, lostrio, slotpaar én haker in Japan almal vir die Bokke begin.

RAPPORT PRAAT SPORT




















