Nie vir die eerste keer op die Springbokke se jaareindtoer nie, het Rassie Erasmus Saterdagaand die naam van 'n losskakel genoem wat deel van sy planne is, maar vir wie hy nog nie plek kon vind nie: die Haaie-ster Siya Masuku.
Die Bok-afrigter het ná Jordan Hendrikse se goeie vertoning in die oorwinning van 45-12 hier oor Wallis die name van 'n gros generaals genoem wat in sy gedagtes is.

"Ons hou van wat ons in Jordan sien. Dit was sy tweede toets en hy het nou die nodige kalmte. Hy is beslis op die lys saam met Manie (Libbok), Handré (Pollard), Sacha (Feinberg-Mngomezulu), Damian (Willemse) en Siya (Masuku). Die diepte is goed," het Erasmus gesê.
Hendrikse (23) het die laaste van die Bokke se sewe drieë hier gedruk en ook met vyf doelskoppe geslaag.
"Jordan het presies gedoen wat ons van hom verwag het en beheer geneem. Uiteraard het dit baie gehelp dat sy broer (Jaden) sy skakelmaat was. Hy het 'n gevestigde agterlyn om hom gehad."
Aphelele Fassi was die enigste een van hulle wat nog nie in 'n Wêreldbeker-toernooi gespeel het nie, het Erasmus gesê.
"Die voorspelers se oorheersing het ook baie gehelp. Maar ek dink Jordan se besluitneming was goed."
Wat interessant is, is dat Hendrikse en Masuku om 'n plek in die Haaie-span gaan meeding. In die Curriebeker-eindstryd het Masuku op losskakel begin en was Hendrikse op heelagter.
Of dit haalbaar is om die 28-jarige Masuku volgende jaar in die Bok-opset in te bring, is 'n ope vraag. Erasmus wil ná die Julie-toetse met 'n gevestigde groep spelers werk.
Jaden gaan ook 'n interessante stryd met sy Bok-spanmaat Grant Williams voer om die Haaie se voorkeur-skrumskakel te wees.
Geeneen van die losskakels wat deur Erasmus genoem is, loop die gevaar om teen die tyd dat die volgende Wêreldbeker-toernooi aanbreek, te oud te wees nie. Pollard is op 30 die oudste van die lot, maar sy bene behoort te hou. Sy temperament en kalmte onder druk maak hom tans die Bokke se senior losskakel, hoewel hy Saterdagaand 'n plaasvervanger vir Damian de Allende op binnesenter was. Hendrikse is ook gemaklik in die middelveld.

Erasmus het egter sonder vrees sy losskakels op toer in die beginspan roteer: Pollard teen Skotland, Libbok teen Engeland en Hendrikse teen Wallis.
Die 27-jarige Libbok se vermoë om die lont op die aanval aan te steek en sy uitstekende balverspreiding - hetsy met sy hande of sy skopvoet - bly 'n troefkaart. Dis sy dwarsskop wat die weg gebaan het vir Cheslin Kolbe se eerste drie in die oorwinning van 29-20 oor Engeland. Pollard is egter opgestuur om die nodige kalmte in die tweede helfte te gee om die Bokke oor die wenstreep te kry.
Feinberg-Mngomezulu (22) het iets van alles - die rustigheid van Pollard en besonder goeie aanvallende instinkte. Soos Hendrikse kan hy sy voete gemaklik op losskakel, binnesenter en heelagter vind. Willemse (26), wat weens 'n besering nie saam kon toer nie, val ook in daardie kategorie. Hy was wel die Bokke se voorkeur-heelagter in verlede jaar se Wêreldbeker-toernooi. Fassi het egter in sy afwesigheid puik in die laaste vesting gevaar.
Waar laat dít alles vir Masuku? 'n Mens weet nie. Op die oog af het hy 'n baie steil bult om uit te klim, maar rugby deel stampe en stote uit wat oornag leemtes kan skep. Vir nou lyk dit asof die Bokke tussen Hendrikse en Feinberg-Mngomezulu moontlik tot ná 2031 se Wêreldbeker-toernooi goed bedien kan wees op losskakel.
• Stephen Nell, senior rugbyskrywer van Netwerk24, en Lloyd Burnard, sportredakteur van News24, doen saam uit Brittanje verslag vir dié susterpublikasies oor die Springbokke se toer.

















