Springbokke

Windmakerige Engelsman Pollock ‘bring vreugde’

’n Uitbundige Henry Pollock nadat die Northampton Saints die  Exeter Chiefs verlede maand in die eindstryd van die Engelse Premierliga geklop het.
’n Uitbundige Henry Pollock nadat die Northampton Saints die Exeter Chiefs verlede maand in die eindstryd van die Engelse Premierliga geklop het. (Foto: Getty Images)

Die manier waarop Steve Borthwick, afrigter van Engeland, vandeesweek die dikwels omstrede Henry Pollock se lof besing het, sou sommige rugbyondersteuners sekerlik ’n oomblik of twee laat wonder het of hul oordeel oor dié 21-jarige losvoorspeler hulle nie in die steek gelaat het nie.

Borthwick het vandeesweek die media in Johannesburg te woord gestaan in aanloop tot die Rose se kragmeting met die Springbokke Saterdag op Ellispark.

Oor Pollock, wat verlede jaar sy toetsbuiging gemaak het, se deugde as rugbyspeler is daar min twyfel. Tog jaag hy soms mense se bloeddruk op met sy manewales op en van die veld.

“Die afgelope Vrydagmiddag was ons op die oefenveld saam met seuns en meisies van die Atlas Foundation, en Henry Pollock het ’n glimlag op almal se gesig gesit. Hy het daardie vermoë,” sê Borthwick.

“Hy het hulle (die kinders) toegelaat om duikslae op hom uit te voer en hy het dat hulle hom ’n danspassie leer uitvoer. Hy het regtig vreugde gebring. As ek moet saamvat wat Henry Pollock bring, is dit vreugde, energie en hy is entoesiasties.”

Borthwick het Pollock op die Engelse se plaasvervangersbank ingesluit vir die kragmeting met die Bokke. Ben Earl is die agtsteman in die Rose se beginspan, met Ollie Chessum en Tom Curry die flanke. Borthwick het ook laat deurskemer dat Pollock straks ook weer as vleuel ingespan kan word. Die besoekers het slegs twee agterspelers, Alex Mitchell (skrumskakel) en Marcus Smith (losskakel of heelagter), op hul plaasvervangersbank.

Steve Borthwick, afrigter van Engeland, staan vandeesweek die media te woord in Johannesburg.
Steve Borthwick, afrigter van Engeland, staan vandeesweek die media te woord in Johannesburg. (Foto: Getty Images)

“Henry het hierdie seisoen regtig goed gespeel, daar is goeie mededinging in die lostrio. Ek dink dit is die regte plan, wie in die beginspan moet wees en wie van die plaasvervangersbank af diens moet doen,” sê Borthwick.

“Henry Pollock is ’n ongelooflike karakter, dit is vir ons lekker dat hy deel van die groep is, hy bring baie energie.”

Borthwick voeg by dat Pollock gretig is om sy vaardighede as rugbyspeler te verbeter en dat hy vinnig verstaan wat van hom verwag word.

Henry Pollock gedurende ’n oefensessie van Engeland verlede maand in Bagshot.
Henry Pollock gedurende ’n oefensessie van Engeland verlede maand in Bagshot. (Foto: Getty Images)

“Dit is elke dag ’n voorreg om met Henry Pollock te werk, ek het vandag saam met hom op die trappies langs die oefenveld gesit. Ons het oor twee dae tevore se oefensessie gesels,” sê Borthwick.

“Hy het dit (waaroor hulle gesels het) vanoggend dadelik op die oefenveld toegepas, hy het ’n ongelooflike persoonlikheid, ons almal hou van hom. Daarby is hy baie gretig om te leer en oorgehaal om vorentoe te gaan. Elke keer as ’n mens hom uitdaag, dan omhels hy die uitdaging.”

Saterdag se toets skop om 17:40 af en word regstreeks op SS 201 en SS 211 uitgesaai.

– marnus.kok@24.com

3878