Varsitybeker

Ollie help Varsitybeker-span afrig

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister
Ollie le Roux in 1999 op loop vir die Springbokke in ’n toets teen Skotland op Murrayfield. Foto: David Rogers | Allsport
Ollie le Roux in 1999 op loop vir die Springbokke in ’n toets teen Skotland op Murrayfield. Foto: David Rogers | Allsport

Die Sentrale Universiteit vir Tegnologie se Ixias het 'n bietjie Springbok-skop voor vanjaar se Varsitybeker-reeks bygekry.

Ollie le Roux, voormalige Bok-stut, sal die Ixias se agttal meer oemf gee nadat hy as voorspeler-afrigter aangestel is.

Le Roux, wat in 54 toetse gespeel het, is Randall Modiba, hoofafrigter van die die Ixias, se nuwe regterhand vir 2025.

Al was hy voorheen as Ixias-konsultant betrokke, is dit Le Roux se eerste amptelike pos by die Bloemfonteinse span.

Modiba het verlede jaar van twee konsultante, Wian du Preez (skrums) en Quintin Geldenhuys (lynstane), gebruik gemaak om sy span se voorspelers te slyp. Du Preez is 'n Springbok en Geldenhuys het vir Italië uitgedraf.

Du Preez is Griekwas se skrumafrigter, terwyl Geldenhuys die direkteur van rugby by die Hoërskool Trio in Kroonstad is.

"Dit is ongelooflik en 'n mens kry soveel energie van daardie jong manne. Jy onthou toe jy daardie ouderdom was en wat jy nodig gehad het om jou te laat presteer," het Le Roux aan Rapport gesê.

Hy sê die spelers is soos sponse en wil graag leer.

"Dis lekker om weer deel te wees van 'n spanomgewing, waar almal moet saamwerk vir 'n groter doel. Dis maar iets wat in jou genetika is en dis 'n voorreg om van my grysheid met die jong nuwe generasie en afrigters te deel."

Le Roux sal nie die enigste nuwe hoëprofiel-breier in die Varsitybeker wees nie. Rapport het verlede jaar berig die voormalige Bok-senter Robbie Fleck het die leisels by die Ikeys oorgeneem.

Fleck, wat ook al die Stormers gebrei het, het by Tom Dawson-Squibb oorgeneem. Laasgenoemde is onder meer nou by die Protea-krieketspan as hoëprestasie-afrigter betrokke.

Die 51-jarige Le Roux het in 2023 die Ixias as konsultant bygestaan toe Melusi Mthethwa, nou 'n hulpafrigter van die Junior Springbokke, die span se hoofafrigter was. Le Roux het toe eers later in die reeks ingeval en was nie van die begin af deel van die Ixias-afrigtingspan nie.

"Ollie is 'n mense-mens. Hy bring baie energie, ervaring en kundigheid, maar vir my gaan dit ook oor die soort mens wat Ollie is. Ek en hy is dit eens dat ons graag eers die mens wil uitbou en dán die rugbyspeler," sê Modiba.

Le Roux sê hy het onder 'n klomp breiers gespeel en kan hopelik by die Ixias toepas wat hy by hulle geleer het. Hy het vir spanne soos die Vrystaat, die Haaie, die Cats en Leinster uitgedraf.

Hy sê die Varsitybeker is 'n bitter taai reeks en hy hoop sy insette kan die Ixias help om 25% of 30% beter te vaar. Die span het die vorige twee jaar voorlaaste geëindig.

" 'n Mens kry baie genoegdoening as jy sien 'n speler kry 'n kontrak, hy begin speel en as jy hom raakloop, sê hy dankie, want jy het half sy potensiaal help ontwikkel," sê Le Roux.

"Om spelers en coaches te ontwikkel is ongelooflik. Jy leer ook elke dag en word net as mens beter. Rugby is maar soos die lewe. Een week is jy 'n hero en die volgende week is jy zero en moet jy daardie druk ook kan hanteer."

• Die Varsitybeker sal nie weer vanjaar weens Paasnaweek vir 'n week onderbreek word nie. In 2024 is daar nie op die Maandag van Paasnaweek, 1 April, wedstryde gespeel nie.

Die reeks begin op 17 Februarie, met die eindstryd wat op 14 April gespeel word. Paasnaweek is eers die naweek daarna. - sport@rapport.co.za

CTA