Ingrypende regulasie-veranderinge wat die aard van die Varsitybeker-reeks drasties sal verander, word na verneem word deur dié studente-reeks se besluitnemers oorweeg.
Die ringkoppe sal binne die volgende maand vergader om onder meer oor die verkiesbaarheidsregulasies van spelers te beraadslaag.

Dit volg op 'n voorstel om die ouderdom van spelers in die reeks van 25 tot 23 te verlaag. Verder sal oorweeg word om geheel en al ontslae te raak van die Young Guns-afdeling. Die besluitnemers wil ook spelers beperk om slegs een universiteit te verteenwoordig.
Die ouderdom-aanpassing blyk egter 'n groot kopseer vir die universiteite in te hou. 'n Ingeligte sê dat die raad binnekort 'n besluit sal moet neem.
"Die universiteite moet strategieë uitwerk en die besluit het 'n impak op ons werwing," sê dié ingeligte.
'n Ander bron waarsku dat sommige universiteite ses tot agt spelers kan verloor weens die verandering.
"Sou ons van ons huidige spelers verloor, beteken dit dat ons nie hul beurse kan finansier nie. Hulle sal gevolglik nie verder kan studeer nie.
"Die spelers het nog 'n jaar se studies oor. As hulle nie finansiering het nie, sal hulle nie hul kwalifikasie kan voltooi nie," sê hy.
Die ingeligtes stel voor as die Varsitybeker-bestuur dié reël wil implementeer, hulle eerder moet oorweeg om dit stelselmatig in te faseer, sodat die universiteite hul werwingstrategieë kan aanpas.
"Die realiteit is dat die Varsitybeker 'n platform skep vir spelers wat ook later ontwikkel. Daar is outjies wat uit die skool kom en kontrakte by unies kry, maar nie speelkans nie. Dan laat die unies hulle gaan omdat hulle nie kan bekostig om die spelers aan te hou nie.
"Dié spelers kom in die Varsitybeker-stelsel en hulle kry dan geleenthede. Selfs as 'n mens kyk na die spelers wat nie kontrakte ná skool kry nie, hulle wil rugby speel en het ook 'n Springbok-droom. Die Varsitybeker bied aan hulle die platform."
Die voorstel dat spelers nie van universiteite mag skuif nie, word ondersteun.
"Dit is belangrik dat die spelers by hul universiteite bly," sê een ingeligte.
Die ander meen dit gaan 'n goeie uitdaging wees.
"Die universiteite sal meer moet fokus op hul eie ontwikkelingsprogramme. Dit is goed dat die spanne nie spelers by mekaar steel nie."
As die veranderinge deurgevoer word, sal dit beteken dat 'n sterspeler soos Tino Swanepoel (23) van die kampioenspan, die Arende, nie volgende jaar kan speel nie - selfs al sou hy met sy studies voortgaan.
Wat die afskaf van die Young Guns-afdeling betref, lyk dit of gesprekke nog lank gevoer sal word. Een ingeligte meen dat dit sin maak om ontslae te raak van dié reeks weens die finansiële implikasies daarvan.
"Ek sou eerder voorstel dat dit soos die Cravenweek bestuur word. Kry al die spanne bymekaar vir 'n week of twee en bepaal 'n wenner. Dan is dit 'n eenmalige uitgawe vir reiskoste en verblyf."
'n Ander bron sê die Young Guns-kompetisie moet bly.
"Dit bied 'n uitstekende platform om die jonger spelers speeltyd te gee en vaardighede te leer. Dit maak dié spelers gereed vir die Varsitybeker.
"Kyk maar net na die NWU, hulle het die afgelope twee tot drie jaar goed gevaar in die Young Guns, nou is hulle die kampioen omdat hulle hulpbronne afgestaan het om spelers te ontwikkel."
Francois Pienaar, stigter van die Varsitybeker, het nie op navrae gereageer nie.











