Tuks het sy plek in die halfeindronde van die Varsitybeker-rugbyreeks bespreek deur die Universiteit van Johannesburg (UJ) in die Goudstad te klop.
Die Pretorianers het vyf drieë gedruk en Maandag se wedstryd met 36-19 gewen. Dit is 'n bonuspuntsege vir Tuks.
Dit was vroeg duidelik dat daar baie op die spel in die kragmeting was. Albei spanne het mekaar eers uitgekyk en die eerste kwart van die kragmeting is deur baie skoppe gekenmerk.
Zander Reynders (senter) en Bernard van der Linde (skrumskakel) het in die eerste helfte vir die Pretorianers gaan druk. Teen rustyd was die telling 15-7 in Tuks se guns.
Dit is te verstane dat daar straks teen rustyd frustrasies in UJ se kamp was. Die tuisspan kon net een keer in die eerste helfte gaan druk. Maar daar was meer as een geleentheid dat UJ kamp opgeslaan het net meters van Tuks se doellyn, maar dit nie in punte kon omskep nie.
Een so 'n geleentheid was net voordat die fluitjie vir rustyd geblaas het. Tuks het vir seker 'n sielkundige voordeel geslaan deur UJ te verhoed om toe te gaan druk.
In die eerste helfte het Tuks se agttal meer as een keer met rolmaalbewegings meters veld gewen.
Vroeg in die tweede helfte het Darnell Osuagwu, haker van UJ, vir sy tweede drie van die dag oorgeduik.
Maar spel is skaars hervat, toe duik Stephan Smit (flank) oor vir Tuks se derde drie. Daarna het dit gelyk of die skrif aan die muur is vir die Johannesburgers toe Francois Klopper (stut) in die 56ste minuut Tuks se vierde drie - vir die bonuspunt gedruk het.
Maar UJ se fut was nog nie uit nie, want kort daarna het Nkosikhona Masuku (plaasvervangerstut) vir die tuisspan gaan druk. Die telling was toe 29-19 in die besoekers se guns. Maar daarna het die Pretorianers weer gaan druk en UJ se hoop op 'n sege verydel.
UJ was oor die algemeen die beste span in die skrums. Die Pretorianers se rolmaalbewegings was uit die boonste rakke. Van der Linde het met flink diens Tuks se agterspelers van goeie balbesit verseker.
• Puntemakers:
Tuks 36 (15): Drieë: Zander Reynders, Bernard van der Linde, Stephan Smit, Francois Klopper, Mihlali Stamper. Doelskoppe: Stephan Coetzee (4). Strafdoel: Coetzee.
UJ 19 (7): Drieë: Darnell Osuagwu (2), Nkosikhona Masuku. Doelskoppe: Jonathan Viljoen (2).




















