Jeppe skok Grey met 22-19

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister
Vreugdevure! Jeppe High School for Boys se eerste rugbyspan en hul ondersteuners vier Maandagaand hul geskiedkundige oorwinning oor Grey Kollege op die Noord-Suid-toernooi in Pretoria.  Foto: Frans Lombard
Vreugdevure! Jeppe High School for Boys se eerste rugbyspan en hul ondersteuners vier Maandagaand hul geskiedkundige oorwinning oor Grey Kollege op die Noord-Suid-toernooi in Pretoria. Foto: Frans Lombard

In sekerlik een van die grootste opskuddings ooit in Suid-Afrikaanse skolerugby het Jeppe High School for Boys Grey Kollege Maandag met 22-19 geskok.

Die voorlaaste wedstryd op die derde dag van die Noord-Suid-rugbytoernooi in Pretoria sal nog lank onthou word vir die begeesterde vertoning deur die Johannesburgse span om die Bloemfonteiners se eerste rugbyspan sy eerste nederlaag sedert 20 Augustus 2022 toe te dien.

Met Luke Cannon (slot), Risima Khosa (agtsteman), McMillen Mongwana (binnesenter) en Sanele Simelane (heelagter), broer van die Stormers-buitesenter Wandisile, aan die voorpunt, het Jeppe geduik asof hul lewens daarvan afhang.

Grey het sake aanvanklik oorheers en Donelle Hendriks (heelagter) het oorgeseil om sy span met 7-0 te laat voorloop ná Alzeadon Felix (losskakel) se doelskop.

Jeppe se Matthew Coetzee (losskakel) het met twee strafdoele geslaag om die gaping te verklein.

Grey het teruggeslaan toe Ethan Adams (buitesenter) 'n bres geslaan het om onder die pale te druk.

Coetzee se derde strafdoel het Jeppe binne trefafstand gehou, waarna Khosa (agtsteman) oorgebeur het. Die generaal se doelskop het Jeppe in staat gestel om water te gaan skep met 'n verrassende voorsprong van 16-14.

Ná rustyd was Grey eerste uit die blokke toe Ruben Cilliers (linkervleuel) in die hoekie oor is.

Die Bloemfonteiners is twee keer vir onkantspel gestraf en Coetzee het die telbord aan die rol gehou.

Met tien minute oor het Jeppe begin droom.

Hoewel Grey verwoed alles in die stryd gewerp het, was hanteerfoute deel van sy ondergang.

Met dié twee spanne se enigste ander wedstryd wat in 1987 gespeel is - Grey het destyds 17-6 gewen - is die rekordboeke op die A-veld van die Afrikaanse Hoër Seunskool (Affies) op indrukwekkende wyse herskryf.

Die Hoër Jongenskool Paarl se Ashwin Swarts op die aanval teen die Hoërskool Garsfontein. Foto: Frans Lombard
Die Hoër Jongenskool Paarl se Ashwin Swarts op die aanval teen die Hoërskool Garsfontein. Foto: Frans Lombard

• In nog 'n pragtige advertensie vir skolerugby het die Hoër Jongenskool Paarl (Boishaai) se Christiaan Grundling (plaasvervanger-haker) in die doodsnikke oorgebars om sy span in staat te stel om die Hoërskool Garsfontein se harte met 'n sege van 38-36 aan skerwe te laat.

In 'n fees van punte het die voortou nie minder nie as agt keer van hande verwissel. Dit was egter Boishaai se veggees wat hulle eindelik deurgesien het teen 'n Garsie-span wat, ná hul nederlaag teen die Hoër Landbouskool Oakdale op die eerste dag, behoorlik opgestaan het om so byna vir nog 'n reuse-opskudding te sorg.

Grundling se drie het sake met 36-36 gelykop gelaat, waarna Viaan Mentoor (losskakel) koelkop met die doelskop geslaag het.

• Die Hoër Landbouskool Oakdale het met sy drag slae van 41-24 verder tot Helpmekaar Kollege se treurmare bygedra.

Met Kai Pratt (loskopstut) en Kurt Coetzee (binnesenter) in hul geledere, lyk die Bulle van Oakdale na 'n span wat vanjaar moeilik geklop gaan word.

Die span van Riversdal het in byna elke aspek van die spel die oorhand oor die Johannesburgers gehad en vyf keer agter die doellyn gedraai.

Coetzee se drie vyf doelskoppe en twee strafskoppe het vir 'n persoonlike bydrae van 21 punte gesorg.

Welkom Gimnasium se spoedvraat en regtervleuel, Hloni Mokotjo, op pad doellyn toe teen die Hoërskool Nelspruit. Foto: Frans Lombard
Welkom Gimnasium se spoedvraat en regtervleuel, Hloni Mokotjo, op pad doellyn toe teen die Hoërskool Nelspruit. Foto: Frans Lombard

• Die tweede drie van die dag deur Welkom Gimnasium se Dyllan Kemp (buitesenter) het die harte van die Hoërskool Nelspruit gebreek.

Die span van Welkom het met 24-20 die botoon gevoer in 'n opwindende wedstryd waartydens die voortou vyf keer van hande verwissel het.

Nellies se Rhinos het vroeg 'n voorsprong van 10-0 geniet, maar kon Welkom se Gimmies net nie afskud nie.

Benewens Kemp, wie se eerste drie sy span se terugvegpoging van stapel gestuur het, was Hloni Mokotjo (regtervleuel) deurlopend 'n bedreiging vir Nellies se verdedigers. Die manne van Mpumalanga se Siya Gama (loskopstut) kan ook die wêreld in die oë kyk ná sy uithaler-vertoning.

Die Hoërskool Dr. E.G. Jansen se haker, Danré Pike, loop hom vas in verdedigers van die Hoër Tegniese Skool Drostdy. Foto: Frans Lombard
Die Hoërskool Dr. E.G. Jansen se haker, Danré Pike, loop hom vas in verdedigers van die Hoër Tegniese Skool Drostdy. Foto: Frans Lombard

• Die Hoërskool Dr. E.G. Jansen het vir die tweede jaar agtereenvolgens die toernooi onoorwonne afgesluit met hul wegholoorwinning van 44-15 oor die Hoër Tegniese Skool Drostdy.

Die Jansies se vuurvreter Zaide-Leigh Rippenaar (flank) het nog 'n kookwater-vertoning gelewer by die afbreekpunte, terwyl Danré Pike (haker) self 'n stewige bydrae gelewer het en twee drieë ingeryg het.

• Puntemakers:

E.G. Jansen 44 (32): Drieë: Riekus van der Merwe, Danré Pike (2), Keanu van Loggerenberg, Gerhard van Aswegen (2), Zian Marais, Divan Francis. Doelskoppe: Matt Bergman, Christopher Combrinck. HTS Drostdy 15 (5): Drieë: Marcus Lee, Hareld Mbuqa, Aljay Skippers.

Welkom Gimnasium 24 (10): Drieë: Dyllan Kemp (2), Hloni Mokotjo, Doelskoppe: Jayden Weideman (3). Strafdoele: Weideman. Nelspruit 20 (10): Drieë: Siya Gama, Vaughn van Zyl. Doelskoppe: Divan de Kock (2). Strafdoele: De Kock (2).

Oakdale Landbou 41 (24): Drieë: Kai Pratt, Roy Viljoen, Erick Steyn, Kurt Coetzee, Reinhart Viljoen. Doelskoppe: Coetzee (5). Strafdoele: Coetzee (2). Helpmekaar Kollege 24 (10): Drieë: Delano Maritz, Liam Devenier, Dylan Engelbrecht, Juan-Pierre Lombaard. Doelskoppe: Zander van der Westhuizen (2).

Jeppe Boys High 22 (16): Drie: Risima Khosa. Doelskop: Matthew Coetzee. Strafdoele: Coetzee (5). Grey Kollege 19 (14): Drieë: Donelle Hendriks, Ethan Adams, Ruben Cilliers. Doelskoppe: Alzeadon Felix (2).

Hoër Jongenskool Paarl 38 (21): Drieë: Ashwin Swarts, Viaan Mentoor, Tommy Muller, Gershom Pieters, Christiaan Grundling. Doelskoppe: Mentoor (5). Strafdoel: Mentoor. Garsfontein 36 (18): Drieë: Justin Blom (2), Luan van den Berg (2), Ruan Enslin. Doelskop: Derrick Kuhn. Strafdoele: Kuhn (3).

• Dinsdag se program:

A-veld

08:30: Pretoria Boys High 2de t. Paarl Gimnasium 2de

09:45: Affies 2de t. Stellenberg 2de

11:00: Menlopark t. Outeniqua

12:30: Pretoria Boys High t. Paarl Gimnasium

14:00: Noordheuwel t. Duineveld

15:30: Waterkloof t. Paul Roos Gimnasium

17:00: Monument t. Durbanville

18:30: Affies t. Stellenberg

B-veld

08:30: Waterkloof 2de t. Paul Roos Gimnasium 2de

09:45: Noordheuwel 2de t. Duineveld 2de

11:00: Monument 2de t. Durbanville 2de.

SPELETJIES VANDAG

CTA