Lesotho se oorwinning Vrydag oor Zimbabwe, asook Benin se sege Donderdag oor Rwanda in Groep C-wedstryde in die Wêreldbeker-kwalifiseringsreeks, het gewys dat Bafana Bafana en Nigerië beslis hul storie sal moet ken indien hulle in dié kompetisie die botoon wil voer.
Slegs die wenners van elk van Afrika se nege kwalifiseringsgroepe kwalifiseer outomaties vir die Wêreldbeker-toernooi in 2026, wat in Amerika, Kanada en Mexiko beslis gaan word.
Lesotho het ná sy oorwinning met 2-0 oor Zimbabwe in die Orlando-stadion in Johannesburg nou ook sy naam in die hoed gegooi vir moontlike sukses in dié groep.
Toe die loting gedoen is, was Suid-Afrika en Nigerië die ooglopende gunstelinge om sake om die topposisie in dié groep uit te baklei.
Maar ná die eerste paar wedstryde het dit duidelik geword dat die ander vier spanne in dié groep dinge verskriklik moeilik gaan maak vir die top-aanspraakmakers.
Lesotho en Benin het albei gelykop uitslae teen Nigerië afgedwing, terwyl Rwanda Suid-Afrika met 2-0 verras het.
En dit is ook weer bewys dat tuisveldvoordeel 'n reuserol in dié kompetisie gaan speel. Dit is egter hier waar Suid-Afrika dalk 'n klein voordeel kan geniet, want Zimbabwe én Lesotho het nie geskikte stadions in hul lande vir internasionale wedstryde nie en speel dus hul tuiswedstryde in Suid-Afrika.
Die stryd in die Orlando-stadion tussen Zimbabwe en Lesotho was Zimbabwe se "tuiswedstryd".
Dit het Suid-Afrika kans gegee om spioene Johannesburg toe te stuur om meer van Zimbabwe se span uit te vind aangesien dié spanne mekaar komende Dinsdag in die Vrystaat-stadion in Bloemfontein die stryd aansê.

En dít gaan beslis 'n stryd wees wat Hugo Broos (afrigter) se span nie kan bekostig om te verloor nie.
Intussen het Broos vandeesweek voor sy span se wedstryd laat Vrydagaand teen Nigerië gesê die feit dat die meeste van Bafana Bafana se spelers hul klubsokker in die plaaslike Premierliga speel, beslis in hul guns tel.
"Hoewel internasionale sokker 'n paar vlakke hoër as die plaaslike Premierliga is, het Bafana Bafana se spelers gewys dat hulle gereed is om dié treë boontoe te gee.
"Die spelers het in die Afrikabeker-toernooi in die Ivoorkus gewys wat in hulle steek. Hulle het hul man uitstekend gestaan en was trouens een van die opwindendste spanne in die kompetisie," het Broos bygevoeg.












