Sprake in VSA oor verlenging van Agoa

Volgens Moksheti Shelile, Lesotho se minister van handel, nywerheid en sakeontwikkeling, is daar sprake dat die Amerikaanse wet op groei en geleenthede in Afrika (Agoa) met ’n jaar verleng gaan word.
Volgens Moksheti Shelile, Lesotho se minister van handel, nywerheid en sakeontwikkeling, is daar sprake dat die Amerikaanse wet op groei en geleenthede in Afrika (Agoa) met ’n jaar verleng gaan word. (Foto: Getty)

Effense hoop is vandeesweek oor die toekoms van Amerika se wet op groei en geleenthede in Afrika (Agoa) gebied toe daar sprake gekom het dat dit met ’n jaar verleng gaan word.

Moksheti Shelile, Lesotho se minister van handel, nywerheid en sakeontwikkeling, het Woensdag dié aankondiging gemaak ná sy terugkeer van ’n besoek aan Washington, berig Reuters.

“Ons sal ... noukeurig monitor ... dat die verlenging in werking tree soos belowe, want as dit nie gebeur nie, loop ons die risiko om meer werksgeleenthede te verloor,” het Shelile gesê.

Die huidige Agoa-ooreenkoms verstryk einde September.

Die lande wat tans onder Agoa val, kry nie voorkeurtariewe nie en is onderhewig aan Trump se “Bevrydingsdagtariewe”.

Lesotho is in April met die swaarste tariewe van 50% gestraf, maar pres. Donald Trump het dit sedertdien tot 15% verlaag. Suid-Afrika se produkte is egter steeds aan ’n invoertarief van 30% onderhewig.

’n Woordvoerder van die Withuis het nie onmiddellik op ’n versoek om kommentaar gereageer nie, berig Reuters.

Parks Tau, Suid-Afrika se minister van handel, nywerheid en mededinging, het Sondagaand ook in Washington gesê daar is “wyer aptyt” om Agoa te hernu.

LEES OOK |Vordering in onderhandelinge met VSA; wyer aptyt vir Agoa, sê Tau

Bongani Lukhele, woordvoerder van die departement van handel, nywerheid en mededinging, het vroeër gesê Suid-Afrika gaan dalk eers in November hoor of die land deel bly van die lande wat in 2026 voordeel uit Agoa gaan trek, mits Agoa voortgaan.

LEES OOK |Wanneer vind ons uit oor Agoa (en maak dit tans saak)?

‘Verlenging verwelkom’

Sakelui wat betrokke is by Business for South Africa (B4SA), die groep van 160 plaaslike maatskappye wat reeds sedert 2023 ’n samewerkingsooreenkoms met die regering het om die land se vernaamste uitdagings te pak, het Donderdagaand op ’n mediasessie gesê hulle sou enige verlenging tot Agoa verwelkom.

Andrew Kirby, Toyota SA se uitvoerende hoof en lid van B4SA se werkstroom in die vervoer- en logistiekbedryf, het wel weer eens benadruk dat Agoa se voordele tot niet sal wees tensy die regering ’n handelsooreenkoms kan beding wat die 30% tarief op die meerderheid Suid-Afrikaanse uitvoer na die VSA kan afwaarts bring.

Suid-Afrika se grootste uitvoer onder Agoa sluit motoruitvoer en landbou in.

Volgens die Agoa-webwerf het Amerika se invoer vanuit Suid-Afrika $13,98 miljard in 2023 beloop, waarvan $3,57 miljard onder Agoa was.

Kirby sê daar is sewe vervaardigers in Suid-Afrika, met twee wat na die VSA uitvoer. Die tariewe raak ook ’n aantal komponentverskaffers.

“Dit lyk asof baie van die verskaffers dalk nie te erg geraak word nie, maar die vervaardiging van volledig geboude voertuie gaan beslis swaar deur die tariewe beïnvloed word.”

Kirby sê die eintlike probleem is die verskil in die tariewe tussen wat Europa met die VSA onderhandel het en wat Suid-Afrika nou ervaar. Hy sê hulle het die departement van handel, nywerheid en mededinging ingelig.

“Hulle is baie bewus van die impak en wat dit beteken vir die ekonomie, vir werk vir spesifieke gebiede van ekonomieë, veral die Oos-Kaap. Dit is dus baie goed geartikuleer.”

– stefani.terblanche@media24.com

stefani terblanche en reuters

SPELETJIES VANDAG

CTA