Desiree Ellis (afrigter) se Banyana Banyana-span sal aansienlik moet verbeter indien hulle vir 'n tweede keer agtereenvolgens met die Afrikabeker-vrouetitel wil wegstap.
Hoewel die SA span Maandagaand sy rekening in Groep C van dié toernooi met 'n oorwinning van 2-0 oor Ghana in die Honneur-stadion in Oujda, Marokko, geopen het, was dit nie met 'n vertoning wat veel vertroue ingeboesem het nie.
Ghana het 'n jong en onervare span in die veld gestoot, maar Banyana Banyana het gesukkel om hul stempel af te druk. Daar was - veral vroeg in die wedstryd en in die tweede helfte - tye waar die Black Queens van Ghana sake dikteer het.
Ellis het agterna erken dat dinge soms gelol het vir haar spelers, maar het gesê die verskriklike hitte het dalk 'n rol gespeel.
Doele in die eerste helfte deur Linda Motlhalo en Jermaine Seoposenwe het die weg vir die verdedigende kampioen se oorwinning gebaan.
"Ons het nie goed begin nie, maar het later beheer geneem. Ghana is 'n baie goeie span, maar ons het veral as 'n eenheid goed verdedig," het Ellis bygevoeg.
Die SA breier was beïndruk met die vertoning van die doelwagter, Andile Dlamini, wat in die plek van die gereelde nommer een, Kaylin Swart, ingespan is.
"Ek het al voor die tyd gesê dat ons met volpunte sal wegstap indien ons nie 'n doel afstaan nie. Ons het goeie verdedigers en spelers voorlangs wat die doele kan inryg," het Ellis gesê.
Dlamini was in die vorige Afrika-skouspel die Doelwagter van die Toernooi, maar is daarna in die Wêreldbeker-toernooi in Australasië met Swart vervang. Swart was daarna gereeld die eerste keuse om die handskoene te dra.

Seoposenwe het 'n paar keer die Ghana-verdedigers agtergelaat, maar sy kon net nie afrond nie. Hier het Banyana Banyana sonder twyfel die diens van die gevaarlike Thembi Kgatlana gemis.
Dié ervare doelskieter, wat haar klubsokker in Mexiko speel, is weens persoonlike redes nie saam met Banyana Banyana in Marokko nie.
Gelukkig vir Suid-Afrika is sy volgende wedstryd Vrydagaand teen Tanzanië, voordat Mali Maandag in die Honneur-stadion gepak word.
Tanzanië het Maandagaand sy eerste wedstryd teen Mali verloor en behoort 'n makliker wedstryd vir die Suid-Afrikaners te wees.
Dit is egter Nigerië, die negemalige Afrika-vrouekampioen, asook Senegal, wat albei in hul eerste wedstryde gewys het dat hulle moeilik in Marokko gestuit gaan word.
Nigerië het Tunisië sonder veel moeite in Groep B met 3-0 geklop, terwyl Senegal vier doele teen DR Kongo in Groep B aangeteken het sonder om enige doele af te staan.
Ook Marokko en Zambië, wat op die eerste dag met 2-2 gelykop gespeel het, het stewig vertoon.
• Woensdag se wedstryd is in Groep A: 17:00: Zambië t. Senegal; 20:00: DR Kongo t. Marokko.- natheer.marshall@24.com





















