Statebondspele

Ashleigh loop tydtoets by Spele mis

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister
Ashleigh Moolman-Pasio sal die tydtoets by die Statebondspele misloop.  Foto: Getty Images
Ashleigh Moolman-Pasio sal die tydtoets by die Statebondspele misloop. Foto: Getty Images

Die Suid-Afrikaanse fietsryer Ashleigh Moolman-Pasio gaan nie Donderdag in die individuele tydtoets in die Statebondspele in aksie wees nie.

Moolman-Pasio (36) het haar die afgelope naweek weens siekte aan die Tour de France vir vroue onttrek. Sy sal wel Sondag in die padwedren in aksie wees.

Alasdair Garnett, spanbestuurder van die nasionale fietsryspan by die Spele, het dit Maandag by navraag bevestig.

Slegs een Suid-Afrikaner, Gustav Basson, sal in die tydtoets aantree. Daryl Impey en Reinardt Janse van Rensburg was aanvanklik ook ingeskryf om aan dié item deel te neem.

Suid-Afrika sal geen deelnemer in die tydtoets vir vroue hê nie.

Basson, Impey en Janse van Rensburg sal saam met Callum Ormiston en Morné van Niekerk Sondag in die padwedren trap.

Intussen is Kerry Jonker (26) na Birmingham ontbied in die plek van Frances Janse van Rensburg (21), wat verlede week 'n operasie ondergaan het. Janse van Rensburg het ook aan die Tour de France deelgeneem, maar sy het die derde skof buite die toegelate tyd voltooi.

Jonker sal saam met Moolman-Pasio en Hayley Preen aan die padwedren deelneem.

• Candice Lill sal Woensdag aan die bergfietsry-byeenkoms deelneem.