Soos vooraf verwag is, is die ervare Branco du Preez nie in die Blitsbokke se groep vir die Statebondspele ingesluit nie.
Die Suid-Afrikaanse Rugbyunie (Saru) het Donderdag die groep van 13 spelers vir die toernooi aangekondig wat van 29 tot 31 Julie in Coventry plaasvind. Die Blitsbokke is saam met Maleisië, Tonga en Skotland in Groep B.
Jordan Hendrikse en Seabelo Senatla het ook nie die paal gehaal nie. Hendrikse en Senatla was albei in die Blitsbokke se voorlopige groep vir die Spele ingesluit.
Justin Geduld, 'n spelskepper, is steeds op die krukkelys en gevolglik nie oorweeg nie.
Die Blitsbokke se agterspelers vir die toernooi is Ronald Brown, Selvyn Davids, Shaun Williams, Dewald Human, Siviwe Soyizwapi, Muller du Plessis en Mfundo Ndhlovu.
Twee gereelde staatmakers, Impi Visser en Ryan Oosthuizen, kon weens skete nie oorweeg word nie. Selfs in hul afwesigheid is daar steeds genoeg plofkrag onder die voorspelers. Sakoyisa Makata, Christie Grobbelaar, James Murphy, Zain Davids, Angelo Davids en JC Pretorius is almal ou hande in sewesrugby.

Soyizwapi en Zain Davids is die enigste spelers in die groep wat in die vorige Statebondspele, in 2018 in Goudkus in Australië, deelgeneem het. Suid-Afrika het toe vierde geëindig.
Neil Powell, afrigter van die Blitsbokke, sê in 'n verklaring van Saru hy is tevrede met hoe die span se voorbereiding verloop het. Dinge het nie heeltemal so goed vir die Blitsbokke in die laaste vier toernooie van Wêreldrugby se sewesreeks verloop nie.
"Ons het gekyk na die aspekte van ons spel wat tekortkominge in die laaste vier toernooie van die Wêreldreeks gehad het. Ons het daarop gefokus om ons in die algemeen beter te maak," sê Powell.
"Ons het gesê dat ons in daardie aspekte moet verbeter om in die algemeen suksesvol te wees. Ons het 'n baie moeilike laaste week gehad (verwysend na strawwe voorbereiding), maar die ouens het goed daardeur gegaan."
Blitsbokke: Sakoyisa Makata, Christie Grobbelaar, James Murphy, Zain Davids, Angelo Davids, JC Pretorius, Ronald Brown, Selvyn Davids, Shaun Williams, Dewald Human, Siviwe Soyizwapi (k), Muller du Plessis, Mfundo Ndhlovu.
• Die Suid-Afrikaanse vrouespan sal deur Asisipho Plaatjies by die Statebondspele aangevoer word. Suid-Afrika is saam met Australië, Nieu-Seeland en Skotland in Groep B.
Suid-Afrikaanse vrouespan: Unathi Mali, Asisipho Plaatjies (k), Kemiketso Baloyi, Donelle Snyders, Luleka Tyibilika, Anacadia Minnaar, Nontuthoko Shongwe, Kyla de Vries, Felicia Jacobs, Mathrin Simmers, Zandile Masuku, Liske Lategan, Bianca Augustyn.
• Albei spanne vertrek Saterdag na Engeland.





















