Statebondspele

Protea-netbalspan ‘nie bestendig genoeg’

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister
Die Matie Nicola Smith (hulpdoelverdediger) wen balbesit vir Suid-Afrika in Saterdag se groepwedstryd teen Jamaika. Foto: Getty Images
Die Matie Nicola Smith (hulpdoelverdediger) wen balbesit vir Suid-Afrika in Saterdag se groepwedstryd teen Jamaika. Foto: Getty Images

'n Uitspeelstryd teen Malawi of Uganda Vrydag is waarskynlik die Suid-Afrikaanse netbalspan se voorland op die Statebondspele.

Daar word verwag dat die Proteas Woensdag met Wallis en Donderdag met Skotland sal afreken om derde in Groep A te eindig.

In Groep B sal Nieu-Seeland en Engeland na die halfeindronde deurdring, wat beteken dat Uganda of Malawi derde sal eindig.

Dié twee Afrika-spanne se wedstryd Donderdag sal bepaal wie derde en vierde eindig.

Albei spanne sal ná Woensdag dalk die groepfase met vier punte klaarmaak, waarna doelgemiddelde sal bepaal wie die derde plek beklee.

Die veteraan-verdediger Karla Pretorius het Dinsdag by navraag gesê die foute wat Suid-Afrika Maandag in sy nederlaag van 74-49 teen Australië gemaak het, kan reggestel word.

Pretorius is tans met swangerskapverlof en nie in aksie op die Spele nie. Die Proteas is ook sonder die ervare doelskieter Lenize Potgieter, wat 'n knieoperasie ondergaan het.

Pretorius sê haar spanmaats het goeie oomblikke gehad, maar sy sou meer bestendige vertonings wou sien.

"Hulle moet die een-op-een-verdediging meer bestendig toepas. Shadine (Van der Merwe) het waarskynlik die wedstryd op hulpdoelverdediger begin omdat sy baie goed is met dié tipe verdediging en Steph (Wood, die Aussie-hulpdoel) kan hokslaan."

Van der Merwe is egter gou na haar gereelde posisie, verdedigende vleuel, teruggeskuif en Zanele Vimbela en Nicola Smith is saam met Phumza Maweni ingespan.

Albei het die lengte, maar moet meer deurlopend die een-op-een-verdediging toepas, meen Pretorius.

Die 33-jarige Vimbela is 1,83 m lank, en die onervare 22-jarige Smith is op 1,88 m 'n bietjie langer.

Vimbela het teen die Aussies in haar 49ste toets gespeel, terwyl Smith net in haar negende een opgedraf het.

Pretorius sê jy kan nie 'n topspan soos Australië toelaat om 'n voorsprong op te bou nie, want hy gaan net daarop voortbou en jy gaan jou momentum inboet.

"Ons het te veel foute gemaak en dit het ons die wedstryd gekos. Die span wat die minste foute maak, is die wenspan."

Pretorius sê Suid-Afrika sal meer selfvertroue hê teen Uganda of Malawi, want hy speel meer gereeld teen Afrika-spanne.

• Suid-Afrika het Wallis verlede maand in 'n toetsreeks met 2-0 geklop.

• Australië het Wallis Dinsdag met 79-33 geklop en Jamaika het Skotland met 79-33 afgeransel.

• Ander uitslae:

Groep A: Australië 79, Wallis 33; Jamaika 79, Skotland 33.

Groep B: Engeland 71, Noord-Ierland 27; Nieu-Seeland 69, Malawi 50.

• TV: Woensdag 13:00 op SS Grandstand (201).