Protea-vroue ‘weet hoe om halfeind te haal’

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister
Laura Wolvaardt in aksie in die eerste T20-wedstryd teen Engeland vroeër die maand in Chelmsford. Amy Jones is Engeland se paaltjiewagter.  Foto: Getty Images
Laura Wolvaardt in aksie in die eerste T20-wedstryd teen Engeland vroeër die maand in Chelmsford. Amy Jones is Engeland se paaltjiewagter. Foto: Getty Images

Desondanks die Protea-vrouekrieketspan se gesukkel in die aanloop tot die Statebondspele, is die span se afrigter, Hilton Moreeng, vol vertroue dat die Suid-Afrikaners goed in dié skouspel kan vertoon.

Suid-Afrika begin sy aanslag op die titel, wat in die T20-formaat beslis word, Saterdag teen Nieu-Seeland in Birmingham.

Engeland het die Proteas onlangs in 'n T20-reeks wat as voorbereiding vir die Spele gedien het, met 3-0 kafgedraf.

Moreeng glo egter die SA span het die nodige ervaring en temperament om ver in die toernooi te vorder.

"Hulle (die Proteas) het al baie keer in uitkloprondes gespeel, hulle was al in halfeindrondes en hulle weet wat benodig word om daar uit te kom," het Moreeng in 'n verklaring gesê.

Moreeng is in die kol. Die Proteas het immers in die kortste formaat van die spel in 2020 die halfeindronde van die Wêreldbeker-toernooi gehaal.

Die Suid-Afrikaners is egter uitgedun sonder spelers soos Marizanne Kapp (weens persoonlike redes nie beskikbaar), Dané van Niekerk (beseer) en Lizelle Lee (uitgetree).

Daar is steeds spelers soos Laura Wolvaardt, Anneke Bosch, Shabnim Ismail en Ayabonga Khaka met die potensiaal om die Proteas na 'n sege te lei.

Benewens die Proteas en die Kiwi's, is Engeland en Sri Lanka die ander twee spanne in Groep B. Slegs die boonste twee spanne dring deur tot die uitspeelrondes.

Die Suid-Afrikaners sal waarskynlik twee van hul groepwedstryde moet wen om die halfeindronde te haal. 'n Nederlaag teen die Kiwi's kan dus nie bekostig word nie, aangesien die Engelse op huidige spelpeil na 'n harde neut lyk om te kraak.

Die Nieu-Seelanders, derde op die Internasionale Krieketraad se ranglys vir T20-spanne (SA is sesde), het die laaste paar weke onder die radar beweeg. Hul laaste amptelike T20-wedstryd was in Februarie teen Indië.

Slaag Wolvaardt-hulle daarin om die vuur te stook en die Proteas doen beter veldwerk as die afgelope tyd, kan hulle Nieu-Seeland troef.

• TV: Vanaf 11:50 op SS Cricket (212).

SPELETJIES VANDAG

CTA