Die enkelbesering wat die Protea-krieketspeler Dané van Niekerk vroeër vanjaar opgedoen het, gaan haar ook uit die Statebondspele in Birmingham hou.
Die Suid-Afrikaanse Sportkonfederasie en Olimpiese Komitee (Saskok) het Vrydag die nasionale vrouekrieketspan vir dié skouspel aangewys. Die kriekettoernooi, wat in die T20-formaat beslis sal word, word van 28 Julie tot 7 Augustus aangebied.
Van Niekerk (29), wat die Proteas gewoonlik aanvoer, is in Januarie beseer toe sy tuis op 'n nat oppervlak gegly en geval het. Dit het veroorsaak dat sy die Wêreldbeker-toernooi, wat in Maart en April in Nieu-Seeland beslis is, misgeloop het. Aanvanklik was die verwagting dat sy sowat drie maande op die krukkelys sou wees.
In Van Niekerk se afwesigheid sal Suné Luus die Proteas aanvoer. Sy het haar die laaste paar maande goed van haar taak gekwyt as kaptein.
Die strydros Mignon du Preez (33), 'n middelorde-kolwer, is 'n welkome toevoeging tot die groep. Sy het vroeër vanjaar haar uittrede uit toets- en eendagkrieket aangekondig en is ook nie meer 'n gekontrakteerde speler by Krieket Suid-Afrika nie.
Du Preez se 1 750 lopies (in 108 T20-wedstryde vir die Proteas) is die derde meeste deur 'n Suid-Afrikaanse vrou. Lizelle Lee, wat onlangs haar uittrede aangekondig het, is boaan die lys met 1 896 lopies, gevolg deur Van Niekerk (1 877).
Die Protea-span sluit verskeie wedstrydwenners soos die snelbouler Shabnim Ismail, die kolwer Laura Wolvaardt en die veelsydige Marizanne Kapp in.

Suid-Afrika begin sy aanslag op die titel op 30 Julie teen Nieu-Seeland. Ter voorbereiding vir die toernooi, sal die Proteas van 21 tot 25 Julie 'n reeks van drie T20-wedstryde teen Engeland speel.
Delmi Tucker, wat nie in die Protea-groep vir die Statebondspele is nie, is wel in die groep vir die reeks teen die Engelse.
Vanjaar is die eerste keer dat vrouekrieket by die Statebondspele gespeel sal word. Slegs een keer tevore, in 1998 in Kuala Lumpur, was manskrieket deel van die Spele. Dit was 'n toernooi oor 50 boulbeurte per span, wat Suid-Afrika, met Shaun Pollock as kaptein, gewen het.
• Protea-vrouekrieketspan vir die Statebondspele: Suné Luus (k), Chloé Tryon, Anneke Bosch, Trisha Chetty, Nadine de Klerk, Mignon du Preez, Lara Goodall, Shabnim Ismail, Sinalo Jafta, Marizanne Kapp, Ayabonga Khaka, Masabata Klaas, Nonkululeko Mlaba, Tumi Sekhukhune, Laura Wolvaardt.





















