Die Suid-Afrikaanse manshokkiespan het Engeland goed laat sweet vir sy bronsmedalje Maandag op die Statebondspele.
Engeland, sesde op die wêreldranglys, het met 6-3 gewen nadat die rustydtelling nog 3-3 was.
Suid-Afrika moes soos in 2002, toe hy laas in die halfeindstryd was, weer met 'n vierde plek tevrede wees.
Suid-Afrika het in die eerste helfte twee keer voorgeloop, maar Engeland het elke keer gou met 'n gelykmaker geantwoord.
Die eerste kwart het geen doele opgelewer nie waarna 'n stortvloed van ses doele in die tweede kwart gevolg het.
Matt Guise-Brown het met 'n strafhoek die Afrika-kampioen laat voorloop. Hy was danksy vyf doele Suid-Afrika se voorste doelskieter op die Spele.
Engeland se Rhys Smith het dit met 'n doel uit gebroke spel 1-1 gemaak.
Keenan Horne het daarna vir Ryan Julius in die sirkel gevind, wat op sy beurt vir Mustapha Cassiem in besit gestel het om Suid-Afrika weer te laat voorloop.
Liam Ansell het dit weer gelykop gemaak met 'n kragtige poging uit gebroke spel.
Engeland het danksy Sam Ward se doel, ná 'n strafhoek, vir die eerste keer die voortou geneem.
Maar die wedstryd het bly wipplank ry en Bili Ntuli het dit 3-3 met 'n variasie van 'n strafhoek gemaak.
Engeland is met twee groen kaarte aan die begin van die tweede helfte gestraf, maar Suid-Afrika kon dit nie uitbuit nie.
Dit was die tuisspan wat volgende toegeslaan en dit 4-3 gemaak het met 'n Phillip Roper-doel van 'n strafhoek.
Suid-Afrika het vroeg in die vierde kwart 'n strafhoek gekry, maar Engeland het daarin geslaag om die bal uit die doelhok te hou.
Dayaan Cassiem het in die 49ste minuut 'n geel kaart gekry.
Roper het dit daarna met 'n tweede doel, sy agtste in die toernooi, 5-3 gemaak.
Suid-Afrika het met ses minute oor besluit om die doelwagter Gowan Jones te vervang met 'n bykomende speler in die speelveld.
Engeland het 'n strafhou gekry toe Guise-Brown op die doellyn met 'n strafhoek getref is. Zach Wallace was in die 59ste minuut in die kol met die strafhou, waarna Suid-Afrika aan die einde weer nie 'n strafhoek kon afrond nie.
• Australië het die goue medalje verower danksy 'n klinkende oorwinning met 7-0 oor Indië in Maandag se eindstryd. Die Aussies was rustyd met 5-0 voor. - Sportredaksie, sahockey.co.za












