Die Suid-Afrikaanse vrouespan het sy eerste sege in die sewesrugbytoernooi op die Statebondspele behaal.
Suid-Afrika het Sondag in Coventry agt drieë gedruk en Sri Lanka in die uitspeelwedstryd om die houtlepel met 52-0 geklop.
Liske Lategan en Felicia Jacobs het albei 'n driekuns aan drieë in die eerste helfte behaal. Lategan se oom is die voormalige Springbok-vleuel Pieter Hendriks.
Met dié sege het Suid-Afrika verseker dat hy sewende uit agt spanne eindig op die Spele.
Dinge het maar swaar gegaan met die Suid-Afrikaners in Coventry. Hulle het in die groepwedstryde sleg teen Australië (0-38), Fidji (0-41) en Skotland (12-33) verloor. Daarna het hulle ook in 'n uitspeelwedstryd teen Engeland (0-36) vasgeval.
In 2018 se Spele, aan die Australiese Goudkus, het Suid-Afrika ál vyf sy wedstryde op 'n streep verloor. Dit was die eerste jaar dat vrouesewesrugby op die Statebondspele gespeel is.
• Puntemakers: Suid-Afrika 52 (33): Drieë: Felicia Jacobs (3), Liske Lategan (3), Zandile Masuku (2). Doelskoppe: Donelle Snyders (4), Nontuthuko Shongwe (2). Sri Lanka 0.





















