Die oomblik van waarheid het vir die Protea-netbalspan en sy afrigters aangebreek.
Sy eerste wedstryd Saterdag by die Statebondspele teen Jamaika is sy eerste in 'n groot internasionale byeenkoms sedert 2019 se Wêreldbeker-toernooi, waar hy vierde geëindig het.
Die Australiër Norma Plummer was toe die hoofafrigter. Sy het daarna die tuig neergelê en Dorette Badenhorst is in Oktober 2019 as haar opvolger aangewys.
Die Protea-sterre Maryka Holtzhausen en Erin Burger het ná die Liverpool-toernooi uitgetree.
Nadat die Proteas verlede jaar met al hul Afrika-teenstanders klaargespeel het, het hulle in Januarie vier nederlae in die Vierhoekige reeks teen Australië, Nieu-Seeland en Engeland gely.

Die Statebondspele sou Badenhorst en Dumisani Chauke se eerste groot kompetisie wees.
Toe skielik in Maart word Plummer en Nicole Cusack, haar hulpafrigter, weer opgeroep as "konsultante".
Cusack is intussen as 'n spesialis-afrigter betrek en Plummer sit in die paviljoen. Sy mentor glo die afrigters.
Is daar te veel kokke in die kombuis?
Kan die Proteas, vyfde op die wêreldranglys, beter vaar as 2018 se vyfde plek in die Goudkus - toe Plummer die leisels gehou het?
Hulle het met die afwesigheid van die beseerde Lenize Potgieter en Karla Pretorius (swangerskapverlof) 'n allemintige 175 toetse se ervaring verloor.
Tog is daar nog hope ervaring in die Protea-twaalftal.
Ses lede van die groep was ook in 2018 in aksie.
Bongiwe Msomi, die kaptein, en Zanele Vimbela neem aan hul derde Spele deel.
Die twaalftal het altesaam 536 toetse op hul kerfstok.
Elize Kotzé, 'n voormalige Protea-afrigter, sê die nuwe afrigterskorps en bestuur het 'n ryk boedel geërf.
"Ons het baie ervare spelers wat in beroepstrukture gespeel het en hulle moet net bestuur word.
"Karla en Lenize se afwesigheid sal 'n impak hê wat ervaring betref. Die ervare spelers sal 'n groter verantwoordelikheid moet neem om die twee se verlies teë te werk. Die span se karakter gaan nou gewys word."

Kotzé glo die Proteas se sukses sal afhang van kombinasies.
"Die talent en vaardighede is daar. Suid-Afrika moet egter nou op 'n punt kom waar al 12 spelers op dieselfde vlak is en met dieselfde intensiteit op die baan kan gaan en die druk bly handhaaf."
Kotzé was in 1995 'n lid van die Suid-Afrikaanse span wat in Birmingham verras het deur tweede in die Wêreldbeker-toernooi te eindig.
"Ek wens die spelers dieselfde moed en durf toe. Hulle moet die Spele met dieselfde mentaliteit en ingesteldheid benader.
"Ek twyfel nie dat die span werklik goed kan vaar nie."
Suid-Afrika is in Groep A saam met Australië, Jamaika, Barbados, Skotland en Wallis.
Groep B bestaan uit Nieu-Seeland, Engeland, die verdedigende kampioen, Malawi, Uganda, Trinidad&Tobago en Noord-Ierland.
• Twee Suid-Afrikaanse skeidsregters, Anso Kemp en Elizna van den Berg, is blasers in die toernooi.
• Protea-groep: Khanyisa Chawane, Izette Griesel, Phumza Maweni, Tshina Mdau, Bongiwe Msomi (k), Lefébre Rademan, Nicola Smith, Nicholé Taljaard, Elmeré van der Berg, Shadine van der Merwe, Ine-Marí Venter, Zanele Vimbela.
• TV: Saterdag 19:00 (SS 208).





















