Die toekoms van die Statebondspele is opnuut in onsekerheid gedompel nadat die Goudkus in Australië ook 'n bod, wat ter elfder ure vir die 2026-Spele ingedien is, onttrek het.
Die Australiese staat Victoria is oorspronklik aangewys om die 2026-Spele aan te bied, maar het in Julie in 'n skokbesluit as gasheer onttrek omdat die geraamde koste om die skouspel aan te bied sy oorspronklike begroting te ver sou oorskry.
Victoria was nie bereid om astronomiese bedrae op 'n sportbyeenkoms ten koste van ander drukkende prioriteite soos behuising te bestee nie.
Die Goudkus, 'n vakansiestad in Queensland, het toe aangebied om 'n meer kompakte Spele in samewerking met Perth in Wes-Australië te huisves, mits die federale regering sou help om die koste van dié multisport-byeenkoms te help dra.
Regeringsamptenare was egter nie vir dié plan te vinde nie en gevolglik moes die Goudkus sy aanbod laat vaar.
Organiseerders van die Statebondspele het nou bitter min tyd oor om betyds 'n plaasvervanger-gasheer te vind en die moontlikheid raak al hoe groter dat dié skouspel tot 2027 uitgestel sal moet word.
Die 2030-Spele is boonop ook in die gedrang nadat die Kanadese provinsie Alberta ook vroeër vanjaar as gasheer onttrek het.
Die laaste Statebondspele, in 2022, het slegs plaasgevind omdat Birmingham op die nippertjie ingestem het om Durban as gasheer te vervang. - Sportredaksie; Reuters; AFP












