Statebondspele kleurryk geopen

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister
Die Paralimpiese swemmer Christian Sadie en Bongi Msomi (regs), kaptein van die nasionale netbalspan lei die Suid-Afrikaanse span die Alexander-stadion in Birmingham, Engeland, binne met die openingseremonie van die Statebondspele. Foto: Reuters

Sê maar van die Britte wat jy wil, maar as jy 'n skouspel wil sien, laat dit aan hulle oor om dit te organiseer.

Dit was Donderdagaand weer duidelik toe die 22ste Statebondspele sedert 1930 voor 30 000 toeskouers in die Alexander-stadion in Birmingham, Engeland, amptelik geopen is.

Net soos die opening van die Olimpiese Spele tien jaar gelede in Londen, was dié openingseremonie in Birmingham in ideale Engelse somerweer skouspelagtig, dramaties en kleurryk.

Die 73-jarige prins Charles het sy 96-jarige ma, koningin Elizabeth II, hoof van die Statebondspele, verteenwoordig. Hy het namens haar 'n boodskap voorgelees.

Die prins, wat die Spele daarna oop verklaar het, het met sy aankoms by die stadion self sy Aston Martin-motor bestuur. Langs hom was sy vrou, Camilla.

Dit was dieselfde motor waarmee sy seun prins William en dié se vrou, Catherine, die hertogin van Cambridge, ná hul troue in 2011 by Buckingham-paleis in Londen weg is onderweg na hul wittebrood.

Brittenje se prins Charles (regs) het self sy Aston Martin-bestuur toe hy Donderdagaand die Alexander-stadion in Birmingham binnegery het om die 22ste Statebondspele te open. Sy vrou, Camilla, was saam met hom in die motor. Foto: Reuters

Nadat "God save the Queen" gesing is, het die Red Arrows van die Britse lugmag - in wie se stigting Suid-Afrika se genl. Jan Smuts destyds 'n sleutelrol gespeel het - oor die stadion gevlieg.

Die supergroep Duran Duran, wat sy oorsprong 44 jaar gelede in Birmingham gehad en veral in die 1980's baie gewild was, het ná die opening die musiek verskaf.

Die legendariese kitaarspeler Tony Iommi van Black Sabbath het ook opgetree.

Malala Yousafzai, die Nobelpryswenner vir vrede wat in 2012 op 15-jarige ouderdom deur die Taliban in Pakistan in die kop geskiet is, het 'n groot toejuiging ontvang toe sy 'n kort toespraak gelewer het. Sy het destyds in Birmingham mediese behandeling ontvang en het ook daar gestudeer.

Bongi Msomi, kaptein van die Protea-netbalspan, en die Paralimpiese swemmer Christian Sadie was die vlagdraers van die Suid-Afrikaanse span.

Die keuse van die span se kleredrag sal seker nie almal se goedkeuring wegdra nie, maar die glimlagte op die gesigte van die Suid-Afrikaners was groot.

Die Statebondspele is immers nie verniet bekend as die "Vriendelike Spele" nie soos prins Charles namens die koningin in die verwelkomingsboodskap gesê het.

Soos die ander spanne het die Suid-Afrikaners selfies van mekaar geneem en die atmosfeer ingeasem.

Lede van die Suid-Afrikaanse Statebondspele-span Donderdagaand met die opening van die Spele in Birmingham. Foto: Gallo Images
Lede van die Suid-Afrikaanse Statebondspele-span Donderdagaand met die opening van die Spele in Birmingham. Foto: Gallo Images

Lwandile Simelane, chef de mission (hoofspanbestuurder) van die Suid-Afrikaanse span, het uit die stadion laat weet: "Die atmosfeer is ongelooflik. Ons is almal vanaand trotse Suid-Afrikaners en dié skouspel (die openingseremonie) is moontlik 'n teken dat 'n baie suksesvolle Statebondspele voorlê."

Suid-Afrika het met die vorige Spele vier jaar gelede aan Australië se Goudkus 37 medaljes verower. Hiervan was 18 goud, 11 silwer en 13 brons.

Durban was aanvanklik aangewys om dié Spele aan te bied, maar finansiële probleme het veroorsaak dat die Statebondspele-komitee die Spele aan Birmingham toegeken het.

Uiteraard het die Engelse span die grootste toejuiging ontvang toe hy die stadion binnegestap het. Queen se "We Will Rock You" het gespeel.

Birmingham maak sy hart oop

Birmingham, 'n stad wat bekend is om sy multikulturele gemeenskap en sy baie kanale, het sy hart vir die meer as 5000 deelnemers uit 72 lande - waarvan die meeste eertydse Britse kolonies was - oopgemaak.

Dié geskiedkundige stad het ook 'n sleutelrol gespeel in eertydse industriële revolusie. Dit is duidelik in die openingseremonie uitgebeeld.

Dié ysterbul is getrek deur 'n groep vroue wat met kettings aanmekaar vas was. Hulle het "onder betaalde en oorwerkte vroue van die industriële revolusie" verteenwoordig. Die vroue van Birmingham het in 1910 daarin geslaag om 'n minimumloon te bewerkstellig. Foto: Reuters

Birmingham is ook die tuiste van Aston Martin, Jaguar en Land Rover.

Sowat 40 000 vrywilligers doen by die Spele diens.

Daar sal in 26 sportsoorte deelgeneem word, Daar is ook verskeie medaljes vir Paralimpiese atlete op die spel.

Ná die Spele sal die kapasiteit van die Alexander-stadion tot 18 000 verklein word.

Die aksie begin Vrydag en die Spele duur tot 7 Augustus.

Prins Charles open Donderdagaand die 22ste Statebondspele in Birmingham, Engeland. Foto: Reuters
Prins Charles open Donderdagaand die 22ste Statebondspele in Birmingham, Engeland. Foto: Reuters
Nóg 'n toneel uit die openingseremonie van die Statebondspele. Foto: Reuters
Nóg 'n toneel uit die openingseremonie van die Statebondspele. Foto: Reuters
Een van die kunstenaars wat in die openingseremonie van die Statebondspele in Birmingham opgetree het. Foto: Reuters
Een van die kunstenaars wat in die openingseremonie van die Statebondspele in Birmingham opgetree het. Foto: Reuters
'n Groep dansers Donderdagaand in die Alexander-stadion in Birmingham, Engeland, tydens die openingseremonie van die Statebondspele. Foto: Reuters
'n Groep dansers Donderdagaand in die Alexander-stadion in Birmingham, Engeland, tydens die openingseremonie van die Statebondspele. Foto: Reuters
Die span van Fidji. Foto: Reuters
Die span van Fidji. Foto: Reuters
Die staf van die Statebondspele kom Donderdagaand by die Alexander-stadion in Birmingham aan. Foto: Reuters
Die staf van die Statebondspele kom Donderdagaand by die Alexander-stadion in Birmingham aan. Foto: Reuters
Die eertydse popgroep Duran Duran Donderdagaand in aksie ná die opening van die Statebondspele. Links is die groep se hoofsanger, Simon le Bon. Dié groep is in 1978 in Birmingham gestig. Foto: Reuters

Die skouspelagtige vuurwerkvertoning ná die opening van die Statebondspele Donderdagaand. Foto: Reuters
Die skouspelagtige vuurwerkvertoning ná die opening van die Statebondspele Donderdagaand. Foto: Reuters

SPELETJIES VANDAG

CTA