Wb Krieket

Faf du Plessis: ‘Ons is tans middelmatig’

Hy sal aanhou sy bes probeer om te verseker dat die Proteas sterker en beter word, sê Faf du Plessis.

Die Protea-kaptein het Sondag op Lord's in Londen ná die span se nederlaag met 49 lopies teen Pakistan gesê die mees frustrerende aspek van hul gesukkel, is dat die span dieselfde foute oor en oor begaan.

Maar hulle sal steeds probeer om daardie foute uit te skakel in hul laaste twee wedstryde.

"Voor vandag se wedstryd het ek gevoel dat hoewel ons teen Nieu-Seeland verloor het, daar 'n opwaartse kurwe was," het 'n teleurgestelde Du Plessis gesê.

"Ons het begin om meer dinge reg te doen sedert die wedstryd teen Afganistan. Teen Nieu-Seeland het ons goeie krieket gespeel, al was daar een of twee goed wat ons beter kon doen.

"Maar vandag het ons weer 'n tree agteruit gegee. Ons gee twee treë vorentoe en een tree terug. Dit is nie wat 'n uitstaande span doen nie.

"Vir my is ons 'n middelmatige span op die oomblik, want ons hou aan om dieselfde foute te begaan."

Al is daar niks meer op die spel nie, het Du Plessis belowe dat die Proteas steeds hul beste sal gee in Vrydag se wedstryd teen Sri Lanka in Durham en volgende Saterdag se stryd in Manchester teen die Aussies.

"Ek sal teruggaan en presies dieselfde doen as wat ons verlede week gedoen het. Ek sal seker maak dat ons aanhou probeer.

"Dit is baie moeilik en dit vreet aan jou, want jy oefen baie hard en gee alles, maar dieselfde foute word net oor en oor begaan.

"Ongelukkig kan jy nie weggaan nie. Daar sal ouens in die span wees wat in hul doppe kruip omdat die selfvertroue laag is, maar as kaptein is dít nie iets wat ek kan doen nie."

Volgens hom is die span nou in die moeilikheid omdat die kolwers almal op dieselfde tyd met hul peil sukkel.

"Jy het nodig dat drie van jou vyf topkolwers almal op dieselfde tyd skitterende peil handhaaf."

Dít was nie tot dusver die geval by die WB nie.

Daar was nog net sewe vyftigtalle in die Proteas se sewe wedstryde - twee elk deur Du Plessis, Quinton de Kock en Rassie van der Dussen, en een deur Hashim Amla teen Afganistan.

Geen kolwer kon boonop al verby 68 skuif nie. Dit is nie tellings wat van enige span 'n titelaanspraakmaker sal maak nie.

SPELETJIES VANDAG

Spesiaal vir intekenare!CTA

Elke dag ’n nuwe blokraai, sudoku en woordblom asook ’n weeklikse vasvra élke Vrydag. 

SPEEL SAAM