Londen. - Die aankoms van hul geliefdes Vrydag in die Britse hoofstad het die Proteas nuwe energie gegee voordat hulle die pylvak van vanjaar se Wêreldbekertoernooi betree.

Só het die kolwer Aiden Markram gister in Londen gesê voor die span se belangrike kragmeting vandag met Pakistan op Lord's.
"Uiteraard was die nederlaag teen Nieu-Seeland (Woensdag in Birmingham) 'n bitter pil om te sluk, want dit was so 'n belangrike wedstryd vir ons," sê Markram.
"Dit was ook taai omdat die wedstryd 'n naelbyt-einde gehad het.
"Natuurlik was die gees in die span 'n bietjie af net ná die nederlaag, maar ons het nou weer ons energie terug.
"Dit help dat die families en geliefdes gister aangekom het." Hy sê die uitslae maak van dié WB 'n taai een, maar hy geniet steeds sy eerste proesel van die sport se grootste skouspel.
"Ek geniet die druk wat gepaardgaan daarmee om by 'n WB te wees. Jy kan baie leer uit moeilike tye ook."
Markram (24) word as 'n toekomstige Protea-kaptein beskou, maar op die oomblik fokus hy glad nie daarop nie.
"Vir nou wil ek net my plek in die span behou en lopies aanteken.
"Ons dink ook nog nie aan wie wanneer gaan uittree nie, maar ons is wel daarvan bewus dat dit die rol van 'n paar jonger ouens gaan wees om die span nóg beter te maak in die toekoms."
Daarom sal hy graag 'n paar WB-lopies op sy kerfstok kry.
"Dit is belangrik vanuit 'n selfvertroue-oogpunt. Dit sal lekker wees om huis toe te gaan, wanneer ook al dit gaan wees, om te weet jy het 'n paar WB-lopies onder die belt."




















