As hul hoop begin kwyn, kan die Proteas gerus kyk na wat die vorige keer gebeur het toe 'n Wêreldbeker-kriekettoernooi in dieselfde formaat as vanjaar beslis is.
In 1992, die laaste keer toe al die spanne een keer teen mekaar gespeel het, was die uiteindelike kampioen, Pakistan, ná vyf wedstryde teen die planke.
Imran Khan se span het drie van sy eerste vyf wedstryde verloor, met slegs een oorwinning en een onbesliste uitslag.
Die Proteas het vanjaar hul eerste drie wedstryde, teen Engeland, Bangladesj en Indië, verloor. Hulle moet al ses hul oorblywende wedstryde wen as hulle van 'n plek in die halfeindronde verseker wil wees.
Ná drie wedstryde bevind die Proteas hulle tweede laaste op die puntelys.
In 1992 was Pakistan ná vyf rondes, met slegs drie wedstryde om te speel, agtste van die nege spanne op die puntelys.
Die uiteindelike kampioen het toe al drie hul oorblywende groepwedstryde, teen Australië, Sri Lanka en 'n sterk Nieu-Seelandse span, gewen en sodoende net-net vierde op die puntelys geëindig met een punt meer as die Aussies en Windies.
In die halfeindronde het hulle weer met die Swartpette afgereken voordat hulle die eindstryd teen Engeland gewen het.
Die les vir Proteas? Dit ís moontlik. En enigiets kan gebeur as jy 'n bietjie momentum optel. Dít moet hulle Maandag in Southampton teen die Windies doen.
Vir Suid-Afrika om die Pakistanse span van 1992 dit na te doen, sal die senior spelers - en veral die senior kolwers - na vore moet tree.
Iemand soos JP Duminy se tellings van 8, 45 en 3, verklap dat hy tot dusver in die toernooi nog nie veel gedoen het nie.
David Miller het homself ingekry teen Bangladesj (38) en Indië (31) maar dan sy paaltjie verloor.
Hashim Amla kon ook nog nie aan die gang kom nie en sy tellings van 13 teen Engeland en 6 teen Indië laat veel te wense oor.
Daar is boonop kommer oor Rassie van der Dussen voor die Windies-wedstryd, wat met 'n liesbesering die veld teen Indië verlaat het. 'n Finale besluit oor sy fiksheid sal Saterdag geneem word, het die Proteas laat weet. Ditto Lungi Ngidi, wat die wedstryd teen Indië met 'n dyspierbesering misgeloop het.
Van der Dussen is die Proteas se voorste lopiemaker tot dusver in die toernooi, met 113 lopies ná drie beurte, met 'n gemiddeld van 37.66.
As die Proteas die Pakistanse span van bykans drie dekades gelede dit wil nadoen, sal verskeie kolwers hul toernooi-gemiddelde baie nader aan 50 moet bring.
Maar onmoontlik is dit beslis nie. Vra maar net vir Imran Khan.




















