Eric Simons sê wanneer jou teenstanders vooraf oor jou begin praat, wen jy reeds 'n bietjie van die tweestryd en hy glo dat, nes opponerende spelers bekommerd sou wees oor die Anrich Nortjé-faktor, hulle ook bewus sal wees van die gevaar wat Kagiso Rabada as snelbouler vir Suid-Afrika inhou.

Simons, wat Wêreldbeker (WB)-glorie in 2011 saam met Indië in Indië gesmaak het, staan die Protea-boulers by in vanjaar se skouspel daar.
Hy is gepols oor Rabada, wat in 2019 se WB-kriekettoernooi in Engeland sowel as verlede jaar se T20-WB-toernooi in Australië nie juis die wêreld aan die brand geboul het nie.
Simons sê hy dink daar gaan groot tellings en goeie kolfblaaie gesien word en sê elke bouler gaan belangrik wees. Hy sê daar kan dae wees waarin Rabada deurloop en iemand anders dan na vore sal moet tree en dat dit op ander dae weer andersom kan wees.
• WB-KRIEKETGIDS | Die program, uitslae en puntelys
"Toe ons hom verloor het (met 'n rugbesering), is ek baie oor Anrich uitgevra. Een van die dinge wat hy bied, is die intimidasiefaktor," verduidelik Simons.
"Ek het al in ek weet nie hoeveel boul- en span- en kolfvergaderings gesit nie. Hoe meer teenstanders oor 'n sekere kolwer of sekere bouler praat, hoe meer is jy in hul kop en hoe meer kry jy 'n sielkundige voorsprong. Anrich is sekerlik iemand oor wie teenstanders sou gepraat het. Net só Kagiso Rabada. Ek dink hy is een van ons sleutelspelers."
Rabada, wat danksy sy jare lange deelname aan die Indiese Premierliga met die plaaslike toestande vertroud is, sal wil verbeter op die 11 paaltjies in nege wedstryde in die vorige WB-toernooi en slegs twee paaltjies in vyf wedstryde in verlede jaar se T20-WB.
Simons is ook oor die jong Gerald Coetzee uitgevra, wat in sy eerste WB-toernooi speel.
"Iemand wat konstant teen 140 km/h kan boul, is belangrik in enige toestande," sê hy van die jongeling.
"Iemand gaan hom die een of ander tyd 'n opstopper gee, daaroor het ek geen twyfel nie, maar dis hoe die spel veral in Indië is. Dis hoe jy dít hanteer, wat belangrik is."
Hy sê 'n taai leerkurwe wag op Coetzee, maar voeg by hy is van die regte stoffasie gemaak om dit te hanteer.
Simons wys daarop dat om die vaart van die bal af te haal een van die dinge is wat in Indiese toestande belangrik is en dat Coetzee ook daaroor in sy arsenaal beskik.
Simons, ook 'n breier van die Chennai Super Kings, het onthul die kolfblad in Delhi waar hulle Saterdag hul veldtog teen Sri Lanka begin, is van swart klei.
Hy sê met die rooi klei in Mumbai wip die bal 'n bietjie meer en skiet dit ook 'n bietjie stadiger deur as op die swart klei, waarop dit vinniger deurskiet na die kolf.
"Dit is nuwe kolfstrook, dis waarskynlik so vier jaar oud, maar beslis die swart kleigrond met heelwat gras (in dié stadium)."
Die Proteas is in hul laaste eendagwedstryd op dié veld 'n jaar gelede vir net 99 deur Indië uitgeknikker.
Sri Lanka is Saterdag ook sonder 'n paar boulsterre. Een van hulle is die draaier Wanindu Hasaranga, wat al 'n T20-driekuns teen die Proteas behaal het. Hy het ook die meeste paaltjies in verlede jaar se T20-WB in Australië laat kantel, terwyl die span se voorste naatbouler, Dushmantha Chameera, ook beseer is.
Indië het Sri Lanka verlede maand vir net 50 lopies in die eindstryd om die Asiatiese Beker in Colombo uitgeboul.
Sri Lanka het intussen albei sy opwarmingswedstryde teen Bangladesj en Afganistan verloor.




















