Buiten vir 'n glipsie hier en daar het Engeland, Australië en Indië kop en skouers bo die res van die spanne by vanjaar se Wêreldbeker (WB)-toernooi uitgetroon.
Dit is dus geen verrassing nie dat dié drie spanne die eerste drie plekke op die WB-puntelys beklee.
Vir hul ondersteuners lê daar nog opwinding voor. Vir een land se ondersteuners dalk die euforie van WB-glorie, vir ander die teleurstellende gevoel van so naby, maar tog so ver.

Vir Suid-Afrikaners, aan die ander kant, het dié pynlike toernooi gister uiteindelik tot 'n einde gekom.
Dit voel soos 'n leeftyd dat die Proteas reeds wiskundig uit die uitklop-wedloop was.
Boeke vol ontledings is reeds geskryf oor waarom die Proteas so erg kleigetrap het, maar as 'n mens hul statistieke vergelyk met dié van die Groot Drie, blyk die redes vir Suid-Afrika se power vertonings duidelik.
Engeland, Australië en Indië het voor gister se wedstryde gesamentlik sewe van die voorste tien lopiemakers by die toernooi gehad.
Hulle is Rohit Sharma (tweede met 544) en Virat Kohli (negende met 408) van Indië, David Warner (derde met 516) en Aaron Finch (vierde met 504) van Australië en Joe Root (vyfde met 500), Jonny Bairstow (agtste met 462) en Ben Stokes (tiende met 381) van Engeland.
Al dié spelers, buiten Stokes, is boonop topdrie-kolwers. Hulle is elkeen gróót spelers vir hul span. Die les: as jou toporde lopies kry, wen jy. Hoe het Suid-Afrika se beste kolwers gevaar?
Faf du Plessis is 17de met 287 lopies. Quinton de Kock gesamentlik 24ste met 253.
"Ek het voor die toernooi gesê jou kans om tot die halfeindronde deur te dring, of selfs die toernooi te wen, sal verg dat die span se spelpeil goed is. Ons het te veel spelers gehad wat nie genoeg lopies of paaltjies gekry het nie en dan sal jy dit nooit maak nie," het Du Plessis, kaptein, Vrydag erken.
Die Proteas kon slegs twee vennootskappe van meer as 100 lopies opstapel - dít in die twee wedstryde waarin hulle lae teikens gejaag en gewen het.
Indië het vier vennootskappe van meer as 100 opgestapel, Australië sewe en Engeland nege.
Paaltjies, en veral vroeë paaltjies deur jou snellers, is ook noodsaaklik as jy sukses wil behaal.
Die laaste jaar of twee was daar straks meer jong spelers wat kans gekry het in die senior span as ooit te vore. Dit beteken daar is talent.
Voor gister se wedstryde het Australië se Mitchell Starc reeds 24 slagoffers geëis, Jofra Archer en Mark Wood van Engeland onderskeidelik 17 en 16, en Indië se Jasprit Bumrah en Mohammed Shami onderskeidelik 16 en 14.
Waar is Kagiso Rabada? Hy het met agt stokke gesit.
Imran Tahir, wat gister in sy laaste eendagwedstryd vir Suid-Afrika gespeel het, het vandeesweek gesê nog 'n rede waarom dié drie spanne die botoon voer, is die samestelling van hul elftalle.
"Ek dink die spankombinasie van daardie drie lande hou die sleutel. Daardie spanne se boulers vat ook al die paaltjies in die toernooi," sê Tahir.
"Wat kolfwerk betref, was daardie spanne meer bestendig. Hulle het die heeltyd tellings van 280 tot 300 aangeteken en hul boulers sodoende 'n goeie kans gegee om die teiken te beskerm.
"Daardie spanne het die regte mengsel vir so 'n toernooi."
Die krieket wat Suid-Afrika opgedis het, was ver benede die standaard van dié drie spanne.
Maar hoe stel die Proteas sake reg? Du Plessis glo die toekoms is steeds rooskleurig.
"Ek dink krieket in Suid-Afrika is op 'n goeie plek, want goeie spelers word opgelewer," sê hy.
"Die laaste jaar of twee was daar straks meer jong spelers wat 'n kans gekry het in die senior span as ooit te vore. Dit beteken daar is talent."
Dit was egter ook omdat die tydperk van 'n gevestigde span met sterre soos AB de Villiers, Jacques Kallis, Graeme Smith, Mark Boucher, Morné Morkel, Dale Steyn, Hashim Amla en kie verby is.
Dit was dus noodsaaklik om nuwe spelers in te kry.
"Ons het ook goeie vertonings gelewer voor die WB, ons het wenkrieket gespeel. Solank as wat jy goeie krieketspelers oplewer en steeds wen, is daar nie rede om veranderinge aan te bring nie."
Daar sal wel 'n manier gevind moet word om te verseker die groot spelers presteer wanneer dit saakmaak, want dít is die sleutel tot sukses by groot toernooie.
Dit het wêreldkrieket se Groot Drie die laaste ses weke herhaaldelik bewys.
- Weens die laat begintyd van die Proteas se laaste Wêreldbeker-wedstryd van die toernooi gister op die Old Trafford-veld in Manchester sal die verslag van die wedstryd in latere uitgawes verskyn.




















