'n Nuwe era vir Protea-eendagkrieket moet ná vanjaar se Wêreldbeker (WB)-kriekettoernooi ingelui word. Rassie van der Dussen behoort 'n kernfiguur in dié Protea-revolusie te wees.
Verskeie strydrosse, soos JP Duminy en Imran Tahir, het reeds aangedui dat hul internasionale eendagloopbane ná die skouspel, wat tans Engeland aan die gang is, ten einde loop. Dit is ook onwaarskynlik dat Ottis Gibson, die afrigter, se kontrak hernu sal word.

Hashim Amla en Dale Steyn het nog geen aankondiging gedoen nie, maar selfs al besluit hulle nie om uit te tree nie, sal die volgende afrigtingspan dapper moet wees en besluit om sonder dié twee staatmakers voort te gaan.
Daar sal op groot skaal huis skoongemaak moet word.
As dít beteken iemand soos David Miller, wat slegs 30 is, bly in die slag ná jare se kanse sonder veel dividende in die nasionale span, is dit ook goed so.
Maar wat van die 34-jarige Faf du Plessis, die Protea-kaptein?
Du Plessis is steeds in 'n uitstekende fisieke toestand, hy is die beste Protea-kolwer en 'n briljante kaptein. Du Plessis het reeds aangedui dat hy ná volgende jaar se T20-Wêreldtoernooi in Australië wil uittree.
Die twee vrae wat dus gevra moet word, is: Hoe gemaak met Faf tot dan? En: Wie volg hom op?
Dit is nog onduidelik of hy in die eendagspan gaan aanbly, maar dit kan dalk wys wees om hom bloot as die nr. 3-kolwer in die span te hou vir die volgende jaar of wat, sodat hy met die oorgangsfase kan help. Hy kan help om 'n nuwe speelstyl te verfyn, nuwe spelers te identifiseer en ook om die volgende kaptein te slyp.
Wat ons terugbring by Van der Dussen. Dit is nog die heeltyd algemeen aanvaar dat Aiden Markram die leisels by Du Plessis gaan oorneem.
As leier sal hy 'n jong groep sterre - onder wie Markram, Quinton de Kock, Kagiso Rabada, Andile Phehlukwayo, Lungi Ngidi, Wiaan Mulder, Kyle Verreynne - byeen kan bring en tot 'n gedugte eenheid saamsnoer.
Hy is verlede jaar in die diepkant ingegooi in die reeks teen Indië in Suid-Afrika - 'n nagmerrie-reeks vir hom as kolwer én kaptein. 'n Mens kan hom beslis nie op daardie reeks alleen beoordeel nie, maar 'n mens wonder tog of hy nie meer waarde sal hê as bloot die sterkolwer en 'n bykomende leier in die span nie. Hy kan ook altyd ná 2023 se WB-toernooi met die kapteinskap toevertrou word.
Van der Dussen het tot dusver by die WB-toernooi bewys hy beskik oor 'n kalm, berekende persoonlikheid.
Nie veel bring dié kolwer van stryk nie - nie voor die penne of voor die kameras nie, soos wat hy vandeesweek in Cardiff in 'n mediakonferensie van 22 minute lank (wat baie lank is vir sulke onderhoude) bewys het.
Tydens dié mediakonferensie het hy vrae oor AB de Villiers se beplande ommeswaai met grasie en intelligensie beantwoord.
Die feit dat hy goed met die media is, is hoegenaamd nie die enigste rede waarom hy as 'n kandidaat vir die kapteinskap gesien moet word nie.
Hoewel hy al 30 is, is sy lyf nog ver van krieketmoeg. Hy het sy buiging eers vanjaar gemaak. Sy lyf is dus gespaar van die houe wat reis op 'n internasionale krieketspeler plant. Hy is boonop nog honger om internasionale lopies te slaan en is 'n skitterende, veelsydige kolwer.
By die Lions het hy ook al kapteinskapervaring opgedoen.
Jare se veg om 'n plek in die nasionale span het 'n geestelike taaiheid in Van der Dussen gebrei. 'n Gehardheid wat saam met sy rustige persoonlikheid van hom die ideale opvolger vir Du Plessis kan maak.
As leier sal hy 'n jong groep sterre - onder wie Markram, Quinton de Kock, Kagiso Rabada, Andile Phehlukwayo, Lungi Ngidi, Wiaan Mulder, Kyle Verreynne - byeen kan bring en tot 'n gedugte eenheid saamsnoer.


















