Netbalondersteuners is bevoorreg om 'n jaar ná 'n opwindende Statebondspele weer puik aksie te beleef.
Suid-Afrika het twee internasionale skeidsregters wie se fluitjies die praatwerk gaan doen - Anso Kemp van die Strand en Elizna van den Berg van Durbanville.
Dit sal albei se tweede Wêreldbeker-toernooi wees.
Kemp was ook 'n blaser in 2017 se Wêreld-jeugtoernooi in Gaborone, Botswana.
Sy sê sy is beslis beter voorbereid as voor 2019 se toernooi in Liverpool, Engeland.
"Vier jaar maak 'n groot verskil in hoe jy groei en hoe om sekere dinge op en van die baan toe te pas.
"Ek is ryper as 'n internasionale skeidsregter - fisiek en geestelik."
Kemp het in Januarie die eindstryd geblaas tussen Australië en Nieu-Seeland in die Vierhoekige reeks in Kaapstad.
As jy nie fiks is nie, beïnvloed dit jou geestesingesteldheid. Dan dink jy net aan jou moegheid.
— Anso Kemp
"Dit is goed om die topspanne te blaas, maar jy moenie enige span onderskat nie, want 'n span soos Sri Lanka of Tonga het 'n ander spelstyl en jy moet aanpasbaar wees."
Kemp glo die erge fisiekheid van wedstryde, asook harsingskudding, sal op die skeidsregters se werksessies tydens die toernooi bespreek word.
Kemp en Van den Berg het albei in die onlangse Nasionale Liga geblaas.
Albei was ook verlede jaar skeidsregters op die Statebondspele in Birmingham, Engeland.
Kemp sê 'n top-skeidsregter hardloop gemiddeld 5 tot 7 km tydens 'n wedstryd.
"Jy moet regtig fiks wees. As jy nie fiks is nie, beïnvloed dit jou geestesingesteldheid. Dan dink jy net aan jou moegheid."
Sy is die bemarkingsbestuurder van die Hoërskool Strand en rig o.14's af.

Van den Berg sê sy is ongelooflik opgewonde om 'n skeidsregter te wees in 'n WB-toernooi in haar eie land.
"Ek is geseënd en dis 'n groot voorreg om een van die 17 skeidsregters in die wêreld te wees wat gaan blaas.
"Die WB-toernooi en die Statebondspele is die twee grootste toernooie wat elke vier jaar plaasvind en die beste spanne moet daarvoor kwalifiseer."
Van den Berg is 'n adminkontroleerder vir verkope vir Heineken Beverages, met elf verkoopbestuurders en vyf adminkontroleerders onder haar.
Sy sê sy het 'n ongelooflike verhouding met haar algemene bestuurder en sy het nie nodig gehad om verlof te neem vir die Nasionale Liga nie.
"Hy het geweet wanneer ek 'n wedstryd blaas. Vergaderings het voortgegaan deur die dag en ek het saans ná wedstryde in my hotelkamer gewerk," sê Van den Berg.
"Ek het sportverlof vir die WB-toernooi. Jy is dankbaar jy het 'n werk en dankbaar om netbal te kan doen en al die balle in die lug te kan hou," sê Van den Berg.

• Die Paarliet Marielouw van der Merwe is die enigste Suid-Afrikaner op die Umpire Appointments Panel (UAP). Sy is ook in die span wat blasers sal gradeer.
• Magriet Bester is die hoof van tegnies en maak seker al die wedstryde verloop klopdisselboom.
• Die Kapenaar Charlotte Scholtz is Wêreldnetbal se tegniese afgevaardigde.
• Klik hier vir 'n volledige interaktiewe gids oor die Wêreldbeker-netbaltoernooi.












