Wb Netbal

Proteas gee treë agteruit met 6de plek

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister

Ons herkou nog aan die 16de Wêreldbeker-netbaltoernooi wat pas verby is.

Dié tien dinge het ons geleer:

1.

Speel vanaf die eerste senterafgooi in jou eerste wedstryd met vuur en passie. Almal het geweet Sondag 30 Julie se groepwedstryd teen Jamaika gaan deurslaggewend wees. 'n Oorwinning oor die Sunshine Girls sou die pad geteer het vir die res van die week. Selfs 'n naelskraapse nederlaag sou die tuisspan met hope selfvertroue toegerus het. Waar was die drif en dryfkrag wat hy teen Nieu-Seeland gewys het, toe die Proteas teen Jamaika gespeel het? Moenie jou lot in 'n ander span se hande plaas nie. Vergeet woorde soos "as ons nog net een doel teen Nieu-Seeland kon aanteken, sou dit en dat anders uitgedraai het".

2.

Moenie met 'n beseerde speler waag nie, al is sy 'n wedstrydwenner. Lenize Potgieter is in die derde, kritieke wedstryd teen Jamaika gekies, maar albei knieë was swaar verbind. Ja, haar span moet vir haar balbesit gee, maar dan moet sy vooraf darem 'n kwart of wat saam met 'n doelskietmaat gespeel het. Sou sy in die eerste of tweede wedstryd 'n rukkie kon speel, kon sy dalk in watte toegedraai word en later losgelaat word as 'n "impakspeler".

Die Protea-doelskieter Lenize Potgieter het op Sondag 30 Julie net drie kwarte teen Jamaika gespeel. Die volgende dag is sy aan die toernooi onttrek weens 'n kniebesering. Foto: Jaco Marais
Die Protea-doelskieter Lenize Potgieter het op Sondag 30 Julie net drie kwarte teen Jamaika gespeel. Die volgende dag is sy aan die toernooi onttrek weens 'n kniebesering. Foto: Jaco Marais

3.

Geen afrigter kan sukses waarborg nie. Norma Plummer, die ervare hoofafrigter, het 'n mandaat van Netbal Suid-Afrika gekry om 'n medalje te wen. Sy het self die groep van 15 gekies en was nie soos vorige SA afrigters gebind deur kwotas nie. Sommige spankeuses was vreemd. Op die ou end is dit die spelers op die baan wat die taak moet verrig.

Nicole Cusack, Norma Plummer en Dumisani Chauke was die afrigterskorps. Foto: Gallo Images
Nicole Cusack, Norma Plummer en Dumisani Chauke was die afrigterskorps. Foto: Gallo Images

4.

Talle Suid-Afrikaners het vooraf verkondig die Proteas gaan die toernooi wen, ook die NSA-president, Cecilia Molokwane. Bongiwe Msomi, die kaptein, en haar spanmaats het nie sulke uitsprake nodig gehad nie. Die druk en verwagtinge was reeds yslik.

5.

Suid-Afrikaners raak gewoond aan middelmatigheid. Dit help nie ons sê vir mekaar die Proteas het goed gevaar nie. Ja, daar was briljante oomblikke, maar die nasionale span moes nie treë agteruit gegee het met 'n sesde plek nie.

6.

Suid-Afrika kan sy sterre dank dat hy nié sy vyfde plek op die wêreldranglys afgestaan het nie.

'n Emosionele groepie Proteas bedank die toeskouers ná hul laaste wedstryd van die WB-toernooi. Hulle het die uitspeelstryd om die vyfde plek met twee doele teen Uganda verloor. Foto: Gallo Images
'n Emosionele groepie Proteas bedank die toeskouers ná hul laaste wedstryd van die WB-toernooi. Hulle het die uitspeelstryd om die vyfde plek met twee doele teen Uganda verloor. Foto: Gallo Images

7.

Suid-Afrikaanse netbalaanhangers is passievol oor die Proteas, wen of verloor. Hulle was uitgehonger vir die eerste groot skouspel op tuisbodem. Die ondersteuning vir die tuisspan was yslik en die atmosfeer elektries.

8.

Ons kan groot toernooie aanbied, kry net gevestigde rolspelers op alle gebiede.

9.

Dit is tyd vir 'n Suid-Afrikaanse afrigter. NSA, plaas jul vertroue in 'n plaaslike breier, selfs al is dit in 'n waarnemende rol.

Nichole Taljaard het op hulpdoel vir Suid-Afrika uitgeblink. Foto: Jaco Marais
Nichole Taljaard het op hulpdoel vir Suid-Afrika uitgeblink. Foto: Jaco Marais

10.

Die toekoms is blink. Ja, daar gaan uittredes wees, maar die uitverkore 15 was puik, so ook die spelers op die rand van insluiting. Onder andere die doele Elmeré van der Berg en Nichole Taljaard is spelers vir die toekoms.