Suid-Afrika moet Donderdagmiddag vir Uganda met 64 doele of meer klop om die halfeindronde van die Wêreldbeker-netbaltoernooi te haal.
Dit is hoe die situasie tans lyk met die Proteas en She Cranes wat mekaar om 16:00 in 'n Groep G-wedstryd in Kaapstad pak.
In dié stadium is die onoorwonne Jamaika reeds in Saterdag se halfeindronde. Hy het sy status as 'n gunsteling vasgemessel toe hy Nieu-Seeland Donderdag in 'n opwindende stryd met 59-48 verslaan het.
Jamaika kon nog nooit 'n WB-toernooi wen nie, maar dié span van Jhaniele Fowler, die kaptein, is op 'n missie om Sondag die trofee te lig.
Die Jamaikane het in die vorige WB-toernooi in 2019 in Liverpool vyfde geëindig, maar het sedertdien met rasse skrede verbeter en verlede jaar die silwermedalje op die Statebondspele gewen.
Die Sunshine Girls het eerste met 10 punte geëindig, met die Silwervarings wat straks tweede sal eindig met sewe punte.

Sou die Proteas vir Uganda klop, het hulle ook sewe punte, maar die Kiwi's se doelgemiddelde is baie beter.
Vroeër Donderdag het Engeland 'n naelskraapse maar geskiedkundige oorwinning met 56-55 oor Australië behaal.
Dit is die Engelse Rose se eerste oorwinning ooit oor die Aussies in 'n WB-toernooi.
Engeland eindig dus eerste in Groep F met tien punte, gevolg deur Australië met agt punte.
Die Engelse sal Saterdag in die eerste halfeindstryd om 11:00 teen die Kiwi's te staan kom, tensy die Proteas 'n groot haas uit die hoed kan pluk.
Om 16:00 takel Jamaika vir Australië.
Australië het die WB-trofee al 11 keer gewen en Nieu-Seeland, die verdedigende kampioen, spog met vyf titels.
Trinidad en Tobago het in 1979 die trofee gedeel met Australië en Nieu-Seeland.
• Skotland het Fidji vroeër Donderdag met 62-46 geklop.












