Wb Netbal

SA se uitspeelwedstryd ‘is ons eie eindstryd’

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister
Nichole Taljaard, Protea-doelskieter. Foto: Jaco Marais
Nichole Taljaard, Protea-doelskieter. Foto: Jaco Marais

Suid-Afrika speel Sondag in sy eie "eindstryd".

So het Elize Kotzé, 'n voormalige Suid-Afrikaanse netbalafrigter, Vrydag by navraag oor die Proteas se waarskynlike uitspeelwedstryd om die vyfde plek in die Wêreldbeker-toernooi in Kaapstad gesê.

'n Plek in Saterdag se halfeindronde was die Suid-Afrikaners nie beskore nie en ná vyf oorwinnings sal hulle om die vyfde plek moet uitspeel.

Kotzé sê Suid-Afrika speel Sondag om sy vyfde plek op die wêreldranglys te verdedig.

Die Noordwester was Vrydag op 'n geleentheid in Kaapstad waar Anroux Marais, Wes-Kaapse LUR vir sport, kuns en kultuur, 1995 se silwermedaljewenners onthaal het.

• Wêreldbeker-netbalgids

"Ná 28 jaar is dit hartseer dat geen Suid-Afrikaanse span weer 'n WB-podiumplek kon kry nie.

"Ons moet vasstel waarom nie. Is dit die keuse van die span? Die fout lê nie noodwendig by die spelers nie.

"Natuurlik wou ons almal hê dat Suid-Afrika 'n podiumplek kry," sê Kotzé.

"Ons het beslis 'n span gehad wat tot die einde kon veg.

"Ons het 'n doelekombinasie met Ine-Marí Venter en Nichole Taljaard, van die wêreld se mees ervare verdedigers met Jeanté Strydom wat saam met Karla Pretorius, Phumza Maweni en Shadine van der Merwe oefen en speelkans kry.

Die Protea-doel Ine-Marí Venter. Foto: Gallo Images
Die Protea-doel Ine-Marí Venter. Foto: Gallo Images

"In die senterbaan speel Bongiwe Msomi in haar vierde WB-toernooi.

"Ons het nie meer verskonings nie. Die spelers sit nie die kombinasie op die baan nie.

"Dit is afrigters se besluite wat 'n groot invloed het op uitslae. Ons moet die vraag vra: Is dit ons spelerspotensiaal of is dit ons keuse van ons afrigter- en bestuurspan?"

Kotzé sê die uitspeelstryd tussen Suid-Afrika en Uganda gaan 'n "oorlogsone" wees.

Uganda het Malawi Vrydagmiddag in 'n taai stryd met 57-46 geklop. Die She Cranes se doele kon spog met 'n puik doelgemiddeld van 95%.

Die Ugandese gaan die Proteas sterk uitdaag nadat hulle Donderdag met 50-52 teen die gasheer verloor het.

Suid-Afrika het Tonga Vrydagaand met 72-46 geklop.

Engeland en Nieu-Seeland pak mekaar Saterdag om 11:00 in die eerste halfeindstryd. Om 16:00 is dit Jamaika en Australië se beurt.

Die 1995-span sê oorwegend hulle hoop op 'n eindstryd tussen die Engelse Rose en die Sunshine Girls van Jamaika.

Die eindstryd is Sondag om 18:00.