Barnes gaan blaser in eindstryd wees

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister

Die Engelsman Wayne Barnes gaan as skeidsregter vir Saterdag se Wêreldbeker-eindstryd tussen Nieu-Seeland en Suid-Afrika hier in die Franse hoofstad aangestel word.

Wayne Barnes gaan as die skeidsregter vir die Springbokke en All Blacks se Wêreldbeker-eindstryd aangestel word. Foto: Gallo Images
Wayne Barnes gaan as die skeidsregter vir die Springbokke en All Blacks se Wêreldbeker-eindstryd aangestel word. Foto: Gallo Images

Hy en Suid-Afrika se Jaco Peyper was die twee blasers in die wedloop om die eindstryd te blaas.

Aangesien 'n neutrale aanstelling gemaak moet word, kan Peyper nie meer oorweeg word nie ná die Springbokke se oorwinning van 16-15 oor Engeland.

Peyper is weens dieselfde rede nie vir 2019 se Wêreldbeker-eindstryd oorweeg nie.

Volgens die rugbystatistiek-webwerf genslin.us/bokke het Suid-Afrika 12 van die 16 toetse gewen waarin Barnes die skeidsregter was..

Barnes, wat in Londen woon, blaas vanjaar in sy vyfde WB-toernooi. Dit is 'n rekord. Hy en die Walliese skeidsregter Nigel Owens was voor vanjaar se skouspel in Frankryk die gesamentlike rekordhouers met vier toernooie.

Die 44-jarige Barnes is ook die mees ervare blaser in die Sesnasies-reeks, met 26 wedstryde.

In November 2022 met die toets tussen Wallis en Nieu-Seeland het Barnes naas Owens slegs die tweede skeidsregter geword wat in beheer was van 100 toetse.

'n Week later het hy die rekord sy eie gemaak toe hy toesig gehou het oor Frankryk en Suid-Afrika se toets in Marseille.

Barnes was al in 23 All Black-toetse die skeidsregter. Die Nieu-Seelanders het 15 van daardie kragmetings gewen en agt verloor.

Dit was die 16de Bok-toets waarin Barnes geblaas het. Net Owens (18 toetse), Steve Walsh (Nieu-Seeland, 18) en Alain Rolland (Ierland, 17) was in meer Bok-toetse as Barnes betrokke.

Volgens die rugbystatistiek-webwerf genslin.us/bokke het Suid-Afrika 12 van die 16 toetse gewen waarin Barnes die skeidsregter was. Slegs een van daardie 16 toetse was teen die All Blacks. Dít was in 2014 toe die Bokke danksy 'n doodsnik-langafstandstrafdoel deur Pat Lambie op Ellispark met 27-25 gewen het.

Barnes was ná verlede jaar se toets teen Frankryk nie in die Bokke se goeie boekies nie en Rassie Erasmus, Suid-Afrika se direkteur van rugby, het opnuut in die sop beland toe hy agterna van die Engelsman se beslissings op sosiale media bevraagteken het.

Die Engelse Rugbyunie het daarna onthul dat Barnes en sy gesin aanlyn dreigemente gekry het.

Barnes was vir lank ook nie 'n geliefde figuur in Nieu-Seeland nie.

Hy was die skeidsregter in 2007 se kwarteindstryd tussen Frankryk en die All Blacks waarin die Hane 'n skoksege behaal het. Barnes is deur Nieu-Seelanders verkwalik vir 'n oënskynlike vorentoe aangee wat tot Frankryk se wendrie aanleiding gegee het.

Wayne Barnes wys verlede jaar vir Pieter-Steph du Toit 'n rooi kaart in die November-toets tussen die Springbokke en Frankryk in Marseille. Foto: Getty Images
Wayne Barnes wys verlede jaar vir Pieter-Steph du Toit 'n rooi kaart in die November-toets tussen die Springbokke en Frankryk in Marseille. Foto: Getty Images

Luidens 'n berig op stuff.co.nz was Barnes al in 23 All Black-toetse die skeidsregter. Die Nieu-Seelanders het 15 van daardie kragmetings gewen en agt verloor.

Hy was egter voorverlede week in hul kwarteindsege oor Ierland die fluitjiedraer.

Barnes het regte studeer aan die Universiteit van Oos-Anglia, waar hy vir die eerste rugbyspan gespeel het.

Hy het in 2002 lid van die balie geword. Hy is 'n advokaat en 'n vennoot by die prokureursfirma Squire, Patton, Boggs, waar hy maatskappye adviseer oor sake van omkopery, korrupsie en bedrog.

Hy ondersteun ook nasionale beheerliggame en sportinstellings met interne ondersoeke en gee advies oor beste bestuurspraktyke.

Barnes was die wêreld se jongste voltydse skeidsregter toe hy in April 2005 op 25-jarige ouderdom by die Engelse Rugbyunie aangesluit het.

In die WB-toernooie van 2007, 2011, 2015 en 2019 het Barnes in twee brons-eindstryde, een halfeindstryd, drie kwarteindstryde en 15 groepwedstryde geblaas.

Hy was in 2009 en 2021 in altesaam drie wedstryde op die Britse en Ierse Leeus se toere na Suid-Afrika die fluitjieblaser.

In klubrugby was Barnes in beheer van twee eindstryde in die Europese Kampioenebeker (2010 en 2018), drie in die Europese Uitdaagbeker (2012, 2019 en 2022) en 'n rekord van tien in die Engelse Premierliga.

In Januarie 2021 het hy die eerste beampte geword wat in 250 Engelse Premierliga-wedstryde geblaas het.

Wêreldrugby behoort Barnes se aanstelling Dinsdag te bevestig. Die beheerliggaam sal dan 'n aankondiging oor die wedstrydbeamptes vir die WB-eindstryd en Vrydag se uitspeelstryd om die bronsmedalje tussen Engeland en Argentinië maak.

• Hendrik Cronjé doen uit Frankryk vir Netwerk24 verslag oor die Springbokke se Wêreldbeker-veldtog.

Hendrik Cronjé in Parys

SPELETJIES VANDAG

CTA